Dis sterk skemer buite. Joachim van Breda sit op sy stoep en radio luister, terwyl hy na die voet van die berg kyk, waar ‘n geel liggie skyn. Die liggie kom van ‘n karavaanvenster. Die karavaan behoort aan Maria Medium. Dit het die  vorige nag misterieus daar langs die grootpad onder die bloekoms verskyn. Geen mens op die dorp het gesien wie die karavaan tot daar gesleep en daar gelos het nie. Sedertdien het dinge soos volg verloop:

Jan Niemand, die munisipale spietkop, het vroeg die volgende oggend ondersoek gaan instel. Hy het met ‘n hand vol pamflette van die karavaanbewoner teruggekeer. Daarin het Maria Medium haar dienste geadverteer. Sy het haarself bekendgestel as clairvoyant, tarotkaartleser, spiritus en algemene raadgeefster. Jan Niemand het die stapeltjie pamflette op die kroegtoonbank van die dorp se Verlatenvlei-hotel gelos. Toe die kroegman, sy neef Willie Niemand, wou uitvra oor die eienaar van die karavaan, het Jan geheimsinnig geswyg.

“Ek kom vanaand verslag doen, wanneer die manne hier is,” is al wat hy gesê het en bygevoeg: “Ek’s aan diens, jy weet, ek het nie nou tyd vir praatjies nie.”

Almal op die dorp het gegis oor die karavaan. Dit was nie sommer omdat die dorpenaars niks gewoond was nie. Nee, die karavaan was besonders omdat dit bont beskilder was. Die linkerkant was heeltemal geel met die groot ronde gesig van die  son wat bo ewe geel sonneblomme hang. Die middelste deel was poeierblou en die regterkant het ‘n prent van ‘n rooi geklede ridder op ‘n wit perd gehad.

Die belangwekkendste deel van die karavaan was egter natuurlik die Maria Medium van die pamflette. Die dorpenaars, die vroue meestal, het die gewoonte gehad om mekaar se fortuin te vertel, deur die patrone van teeblare onder in hul koppies te lees. Die voorbarigste onder hulle het uitgeskiet as baasfortuinvertelsters. Maar dit was alles pret. Die verskyning van ‘n ware medium was baie meer opwindend en ernstig.

Die bietjie wat Jan Niemand laat val het, het net die nuuskierigheid geprikkel. Sy was glo baie mooi. “So ‘n donkerkop met bruin oë,” het Jan vertel. En: ”Sy vra net tien sjielings, dan lees sy vir jou jou toekoms, hede en verlede.”

Daaruit was dit duidelik dat Maria Medium ‘n ope uitnodiging aan die dorpenaars gerig het om haar te besoek.

Dit was egter eers na die hoërskool uitgekom het, dat ‘n paar avontuurlike jongens en meisies die 400 meter of so na die grootpad toe gestap het. Uit die gebabbel wat hulle verslae by hul terugkeer opgelewer het, het die besoek so verloop:

Hulle het so tien treë van die karavaan af gestop en gewag. Vreemde musiek was in die karavaan hoorbaar. “Haahaa-hie-ha-eeei-nie-haha…” het dit opgeklink. Vreemd. Die gordyne voor die venster was weggetrek, maar Maria Medium was nie deur die oop venster sigbaar nie. Die jong klomp het onderlangs gegiggel, gekoukus en gelag. Een van hulle, ‘n meisie en nogal Jan Niemand s’n, het daadwerklik vorentoe getree, hande bakgemaak en deur die venster geloer. Sy het terstond terug geskarrel. “Sy kom!” het sy uitasem gesê.

En so was dit. Die karavaandeur het oopgeswaai en Maria Medium het na vore getree. Maria Medium, het hulle almal saamgestem: was mooi. Twee deurdringende amandelvormige bruin oë was geset in ‘n hartvormige gesiggie. Die neus was gespits en die vol lippe was granaatrooi geverf. Haar stem was soet en melodieus toe sy uitroep: ”Wees gegroet, almal! Ek is Maria Medium. Kom, neem vir julle elkeen ‘n pamflet en gee dit vir julle ouers,” het sy gesê en ‘n stapeltjie pamflette voor haar uitgehou.

Die jong klomp, opeens skugter, het een vir een vorentoe getree en ‘n pamflet geneem. Daarmee ter hand, is hulle weer vort. Teen laatmiddag was die dorpie se inwoners oor Maria Medium se missie ingelig. Op daardie uur ook, het die gereelde klomp, die dorpenaars en die boere van die distrik, in die Verlatenvlei-kroeg saamgetrek en Maria Medium se pamflette gelees. Hulle het deelgeneem aan die geskinder, gewonder en gekorswel oor die verskynsel, min bedag op wat toe volgende gebeur het:

Sesuur daardie aand verskyn Maria Medium in die kroeg. Die kroeg was vol, want dit was Saterdag. Die swaaideure van die kroeg het gepiep en sy het een tree vorentoe gegee en stilgestaan en na die rûe van die drinkers gekyk. Die een het die ander in die ribbes gepomp, tot almal uiteindelik op hul stoeltjies omgekyk, of omgedraai het om haar gade te slaan.

Die rooi tabberd, wat sy gedra het, het aan die soepel lyne van haar figuur gekleef. ‘n Geel syserp was om haar hals gedrapeer. Sy het daar in glimmende swart hoëhakskoene en swart skouerhandsak gestaan en al die mans het haar teenwoordigheid ingedrink.

Willie Niemand, die kroegman, wou iet sê. Iets op die trant van vroue word nie in die kroeg toegelaat nie, maar woorde het  hom ontbreek, toe sy met ‘n duidelike getok-tok op haar hoëhakskoene in die verbaasde stilte na die vêrste punt van die toonbank toe gestap het.

By die kêrel op die punt het sy eers gestop, ‘n geringde hand uitgesteek en oor sy rug gestreel. Toe met afgemete treë al langs die ry afgestap en met die uitgestrekte hand elke rug gekielie, gestreel, of ‘n knypie gegee. Aan die onderpunt het sy luiters ‘n kroegstoeltjie teruggetrek, gaan sit en die handsak op die toonbank neergeplak. Die hele toneel was ongehoord.

“Uh, mejuffrou…” het Willie Niemand weer begin. Hy wou sê vroue is verbode in die kroeg, maar sy’t hom kortgeknip.

“’n Koue bier vir my, as een van die here hier so goed sal wees om vir my te koop,” het sy skalks gesê, vorentoe oor die toonbank geleun en al met die ry gesigte langs af, gekyk. Goed die helfte het na hul beursies gegryp en terwyl die kroegman beswaard ‘n bierbottel vir haar ge-pop en vir haar geskink het, het sy die handsak oopgemaak. Sy het daarin rondgetas en met ‘n stel kaarte vorendag gekom.

Die manne het onderlangs begin gesels en ‘n paar het gelag. Sy het ‘n slukkie bier geneem en die pak kaarte geskommel.

“Ek is Maria Medium. Vir tien sjielings vertel ek wat die toekoms vir jou inhou, waar in die verlede jy gefouteer het en wat jy nou vanaand kan verwag,” het sy gesê en hulle met die ry af in die gesigte gekyk.

‘n Huiwering het deur die manne se geledere gegaan, maar sy’t begin om die kaarte voor haar op die toonbank uit te pak. Die nekke het gerek. Dit was nie gewone speelkaarte nie. Dit was helderkleurige kaarte met prente van die son, ‘n berede ridder, ‘n feëprinses, die skelet van ‘n man met ‘n sens in die hand, ‘n bul, soos jy net daar in die distrik sou kon kry, en nog vele meer. Dit was 78 kaarte in totaal.

“Wie’s eerste?” het die kroegman laggend en uitdagend uitgeroep.

Hande het die lug op in geskiet. Die kêrel direk langs haar s’n ook en so begin die aand se fortuinvertellery. Na die eerste lesing van die kaarte, het sy opgestaan en al met die ry af elkeen besoek en oor die boodskappe van die kaarte ingelig. Sy was nie skaam nie. Sy het elke keer haar volle gewig tussen die sittendes ingewig en nie gekla as ‘n arm terloops haar middeltjie omsirkel het nie. Op die ou end het sy al die klante en die kroegman se fortuin vertel en hulle het haar goedsmoeds in harde kontant betaal. Daarna het sy twee verdere biere saam met die manne gedrink. Sy was rojaal met die vleitaal gedurende die gesprekke wat gevolg het en het hulle maklik om haar pinkie gedraai.

“Dankie, here. Is hier iemand wat so gaaf sal wees om my na my karavaan toe terug te vat?” wou sy weet, na sy die derde bier geledig het.

Weer het die hande die lug in opgeskiet.

“Almal gelyk!” het Maria Medium uitgeroep en klokhelder gelag. “Almal is welkom om saam te kom,” het sy gesê.

Dit gee ‘n geredekawel af. Die kêrels het probeer om mekaar oortuig dat die ander gerus maar toegelaat moet word om haar te neem.

“Almal is welkom!” roep Maria Medium toe weer uit.

“Dan ry ons almal en gaan kyk hoe jou karavaan lyk,” het  een uiteindelik verklaar, onder luide sekondasie van die res.

“Goed, kom ons gaan,” was Maria Medium se woorde daarop en sy het haar handsak vol geld oor die een skouer geslinger, terwyl sy met die ander hand die laaste van haar bier geledig het.

Terug by die hede, is dit die geroesemoes wat Joachim van Breda van sy stoep af sien, net toe die nege uur nuusleser op sy radio aan die beurt kom. Om die geel verligte venster van die karavaan skyn die kopligte van ‘n sestal karre. Die stemme van Maria Medium se geselskap klink luid in die nag. Dis duidelik ‘n gefuif.

Maria Medium se stem kan ook bo die gedruis van motorenjins gehoor word. Die manne lag baie. Wat gesê word, is nie mooi hoorbaar op ‘n distansie nie. Maar dan klap een van die karre se deur toe en die bestuurder ry om die karavaan en parkeer voor dit. Dan sit hy die kar in trurat en stoot agteruit tot teen die karavaan se neus. In die voertuigligte drom die manne saam rondom die spasie tussen die kar en die karavaan. Hulle koppel die karavaan aan die kar se sleepstang. Die man agter die stuur trap die petrol en die enjin brul.

“Ek ry voor by hom!” hoor Joachim Maria Medium se stem bo die geraas uitstyg.

“Ons ry saam!” roep die ander uit en die motordeure klap, soos almal vir ‘n sitplek na die karre waarmee hulle gekom het, skarrel.

Die motorenjins brul op die aandlug. Die kar wat die karavaan sleep, trek eerste weg en dan brul die enjins van die ander karre, soos hulle in gelid agter die karavaan inval. Die karre se kopligte verlig die klein konvooi en die remligte brand rooi in die nag. Die ligte word kleiner en verdwyn uiteindelik om die toon van die berg en buite sig van ‘n nadenkende Joachim van Breda.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Maria medium ‘n verhaal wat jou terug vat na die fortuinvertel era toe. Báie geniet. 👍Dankie

Lewer kommentaar

Leave a Reply