Douw bestuur soos ‘n duiwel.  Een hand klou aan die stuurwiel en in die ander hand hou hy ‘n bier.  Dis nag en hy hy haal elke robot in die geel, net voor dit rooi slaan.  Ek stut myself met een hand teen die paneelkissie en in die ander hou ek ‘n bier waaruit ek kort-kort ‘n sluk neem.  Douw se mal ryery bekommer my,  maar ook nie te veel nie.  Dis meer die rondgooiery binne in die kar wat my verontrief.

“Ons is nog nie klaar nie,  Kosie!  Nog een laaste stop by die Fonteine,  dan’s ons tuis,”  bulder hy en gooi die ou Volkswagen terug in derde, rem terselfdertyd en bring ons met die gelukskoot van die aand veilig deur die draai en tot voor ons bestemming tot stilstand: die Fonteine Hotel.

Die lawaai binne in die kroeg breek soos ‘n brander oor ons,  toe ons binnestap.  Dis Woensdagnag en die manne kuier!  Ons wurm ‘n plek oop by die toonbank en bestel.

“Wat ‘n geroesemoes!”  skree Douw bo die lawaai vir my en kyk terselfdertyd rond.  Daar’s ‘n hele klompie bekendes,  maar die argumente is vuurwarm en niemand let ons op nie.  Dan val sy oog op die meisie wat byna onder sy armholte sit,  waar hy ingedruk  het.

“Goeienaand,  meisie van my drome,”  sê  hy en gooi sy lyf skuins sodat hy haar mooi in die oog kan  kry.  Maar ek is terstond baie bekommerd.

By die woonstel wag Cheryl my liefie en ek weet sy is al klaar besig om vuur te spoeg. En as Douw nog met sy lyf daar aankom en uitblaker dat ons in vrouegeselskap was,  is my doppie geklink!  Dus gooi ek my lyf na die anderkant toe en staar na die uitgang wat nou dringend benut moet word.  Ek kyk oor my skouer en sien Douw bladskud met die blond.  Kontak!  Soos hulle sê.  Ek sluk die Whiskey met ys en al af.

“Douw!”  Ek skuur verby hom en staan styf tussen hulle twee.  “Douw,  dis oor twaalf!”

“Dis nog vroeg… nie waar nie my skat?”

Die meisie lag inskiklik.

“Monica wag vir jou boet.  Monica wag!”  sê ek en speel terselfdertyd my troefkaart deur Monica se naam te noem.  Sy vrou en twee kinders wag by die huis.

“Monica wie?”  brul hy,  maar ek het hom fyn getref.  Die meisie draai weg van ons af en spreek ‘n dofkop langs haar aan.  Douw lig een groot hand en maak of hy my ‘n vet klap gaan gee.  Maar sy fut is ook uit.  “Nou goed,  Kosie,  kom  ons laat spaander.”

Douw vaar uit teen my op pad huis toe.  In sy gekrenktheid ry hy nog vinniger.  Maar toe ons by die woonstelblok indraai en die enjin energiek ref,  is my gedagtes by die oorlog wat nou tussen my en Cheryl wag.

Ons klim uit.  Ek en Douw-hulle bly langs mekaar.

“Wat sê ons?”  vra Douw en hy klink meteens baie bedees.

“Sê net jammer en sjuut!”  sê ek.  Dis my strategie.  Om teë te praat as Cheryl aan’t uitvare is,  stook net haar ongelukkigheid.  Monica is kalm,  maar Cheryl!

Ons stap teen die trappe uit na die eerste verdieping toe.  Ons praat nie meer nie – te besig om onsself geestelik voor te berei vir wanneer die voordeure  oopgaan.  Dis eers my deur en dan Douw-hulle s’n.  Ek stop en klop en dan stop Douw en klop.  By my is dit donker en niemand maak oop nie.  By Douw maak Monica onmiddellik oop.

Ek klop nog twee keer,  toe sê Douw vanaf sy voordeur:  ”Kosie,  Monica wil met jou praat.”

Ek stap om.  Monica kom in haar kamerjas uit hulle kamer uit.  Douw koes altyd vir moeilikheid en die spoed waarmee hy kamer toe verkas het,  waarsku my.

Monica is ‘n liewe klein brunet wat skaars by my skouer kom.  Toe sy voor my staan,  hou sy my  woonstelsleutels na my toe uit.

“Ek’s jammer,  Kosie.  Gaan slaap nou eers.  Ons kan more praat.”

Ek vat die sleutels en loop.  Dis nie vir my duidelik wat sy bedoel nie,  maar ek soek nou ‘n bed.  In die woonstel sit ek al die ligte aan,  maar ek’s alleen.  Daar’s geen teken van Cheryl nie.  Ek klop weer by Douw-hulle.  Douw slaap en Monica maak oop.

“Cheryl het geloop,  Kosie,”  sê sy,  vou haar arms en kyk na my met ‘n gekantelde koppie.

“Geloop?”

“Ja,  Kosie.  Sy’s weg.  Jy’t een aand te veel uitgebly.”

“O,”  sê ek.  “Dankie, .. sien jou more.”

Cheryl weg?  Sy sal terugkom,  dink ek.  Toe  val ek op die bed neer en dis ligte uit.

Die son skyn toe ‘n geklop aan die voordeur my wakker maak.  Ek wil nie wakker wees nie.  Cheryl!  Tref dit my.  Ek vlieg op en gryp die sleutels.  Maar dis Monica wat voor my staan.  Sy hou ‘n glas met Douw se babbelasbrousel uit na my.

“Ek dog dis ..”  sê ek.

“Cheryl is weg,  Kosie.”

Cheryl kan nie weg wees nie!  Sy sal nie loop voor sy my die kop gewas het nie.

Ek voel ‘n dowwe pyn in my bors.

“Wat nou?”  vra ek half onnosel.

Sy kyk my op en af en sê:  “Wat nou ..?   Nou’t ek twee van julle om voor te sorg.”

-o-

Lewer kommentaar

Leave a Reply