Rooiwyn! Rooiwyn! O, Rooiwyn! Ander mense word wakker met ‘n hoofpyn en geen gewete nie, bloot omdat hulle niks van die vorige aand kan onthou nie! Nee, nie ek nie. Word wakker met ‘n vreeslike dors en dan begin elke ding in my brein terugspeel. Ag nee! Het ek werklik aan tafel sit en snork-lag? En natuurlik, het almal vir MY gelag? Of was dit vir my snaakse grappies? Ek knyp my oë toe – asof dit die herinneringe sal wegvat! Haal diep asem, moenie te veel dink aan gisteraand nie.
“Kreun.”
Nee, o nee!
Die rooiwyn met ‘n strootjie gedrink, o nee!
Ge-sulk omdat Dokter my mooi gevra het om my te gedra!
Om die kar gehardloop by die rooi verkeerslig!
Hemele bedek my, berge verswelg my!
Nee my magtig nee! Wat moet al die vername professors, mede dokters en advokate tog nou van my dink?
En die belangrikste – wat moet MY dokter van my dink?
Ek bel dadelik my niggie – sy swot sielkunde en weet taamlik baie (al is sy blond).
“Hoeveel maal moet ek jou probeer oortuig om ‘n sielkundige te gaan sien?”
Is ek dan so ‘onlekker’ in my kop?
En ja ek wag nog vir my ‘hearing’, en ja nou wag ek ook op die uitspraak van al die vername mense.
Verdoem uit die sosiale kringe van my dokter of nie. En ek wou tog so hard probeer om almal te beïndruk!
Is ek al een of het iemand daar buite al so gevoel? Hoe en waar word ons ge brainwash dat ons vir almal om ons aanvaarbaar moet wees. Ouers? In ‘n mate seker. Opvoedkundige instansies, bla, bla, bla, bla, bla.
Dis later die aand en die dokter druk my styf vas.
“Ek gee nie ‘n hel om of hulle van jou hou of nie, ek is lief vir jou!”
‘n Behaaglike sug! Gooi vir my ‘n glas rooiwyn in en kom hier dokter.
Elke skewe pot kry sy skewe deksel. Net ‘n wonderwerk dat hierdie skewe pot so ‘n perfekte deksel gekry het (net solank die hitte binne bly)!
skrywer: Mitzi Kaalsen
