Ek is positief. Ek is positief. So probeer ek my brein manipuleer om net beter te voel, maar die dekselse koue vries elke poging van my mond om by my brein uit te kom. Dis al ‘n week dat ek so voel.
Is Vrydag nie veronderstel om jou te laat beter voel nie?
Miskien nie, als het tog verlede Vrydag gebeur.
Op pad huis toe na ‘n harde dag. Favourite song (vir nou) speel op die radio, ek draai harder, maar is effe teleurgesteld toe die laaste note fade. Volgende stasie – hey! – My song begin weer speel!!!!!
Hoe gelukkig kan een mens wees, en dis toe, ja toe ek behaaglik agteroor teen die kar seat sit leun, die ritme teen die stuurwiel uit tik, dat dit gebeur. Rem ligte voor my. Slowmotion? Slowmotion se moer. Ek tref die golfie voor my met ‘n hengse slag. Daar’s ‘n slag teen my vas. Almal spring uit ‘n kar uit. Mens noem dit ‘n kettingbotsing, pile-up accident in Engels – ja ek leer ‘n nuwe soort literatuur! Die aasvoëltrokkies (wegsleep dienste) is vinniger daar as polisie en ambulanse (nie dat iemand vreeslik seergekry het nie – behalwe vir my potblou kniegies). Die vrou wat uit die voertuig agter my spring is histeries aan die huil.
“Is jy okay? Het jy seergekry?” Tien jaar terug vir drie jaar lank verpleeg en Florence Nightingale herrys skielik. Sure, wonder wat sou ek regtig gedoen het as ‘n been en bloed iewers moes lê?
“Nee, dis ‘n company kar!!! Waa aaaa!” Nog histeriese snikke. Sug.
Loop eerder vorentoe. Hallo wat het gebeur, wie het my favourite song verander in een of ander bose deuntjie van voorspel tot als wat sleg en donker en evil is?
En daar staan hy – die skuldige een!
Verpoepte jong seun (als onder 25 is kinders – ek is tog al in my vroeë dertigs!) met die miniatuurbrakkie in sy hande. Hy hou daai brakkie vas soos een of ander wapenskild.
“Sorry it was the dog..”
Ek staar oopmond na die klein skuldige dingtjie.
Om alles net grafies reg te stel (indien so iets moontlik is vir ‘n vrou):
Die “hondjie-man” se hondjie het tussen die ratte gespeel, klink nie lekker nie nê, dis toe dat die ou briek, in die middel van die besigste blerrie pad in Gauteng. ‘n Golfie het toe in hom vasgery (later uitgevind dis Braampie). Ek het in Braampie vasgery, en miss Histeria het in my vasgery!!!
Hoe dit ookal sy, my Vrydag was opgeneuk! Ek het kalm my sussie geskakel en laat weet ek kom nie plaas toe vir die naweek nie.
En ja – ek ry OOK ‘n company kar, en wag in spanning vir my hearing!
So POSITIEF???? Weet darem nie.
En ek wil ook nie vandag daai song hoor nie.
Sal julle laat weet oor die hearing!
skrywer: Mitzi Kaalsen
