Die dag draal omtrent stadig verby. Nie eers lus om my ma te bel nie – dis bad. En geen wonder ek verloor nie gewig nie. McDonalds, KFC, Romans Pizza – hulle almal kan ek van my kantoor af sien.
Dankie tog ek sien nie die Keg nie!
Ek wag natuurlik steeds vir my verhoor. Ek en die bestuurder loop draaie om mekaar by die werk. Hy, miskien uit beduiweldgeid uit, ek uit skone skaam en verleë wees!
En negatiweit? ‘n Week terug was dit Pre-Menstruele Spanning, ek neem aan dis nou Post Menstruele Spanning. Weet ok nie so lekker of sielkundiges saam my sal stem of nie, maar as ek regtig wil is ek seker ek kan dit bewys. Vir almal wat my opinie wil hoor – dit is NIE lekker om ‘n vrou te wees nie, veral waar dit by PMS kom.
Glo my – die gevreesde week, word deur my arme kêrel (Dokter) in sy dagboek gemerk. Hy weet nou al presies wanneer om laat by die huis te kom, stil te bly en taktvol te vra of dit amper daai tyd van die maand is! Hy (en ek) sukkel egter nog om presies te weet watter soort PMS dit sal wees.
1. Woede-PMS:
Dis wanneer ek voel of ek my Toyota Yaris (tans by die panelbeaters) in 4×4 kan sit en bo-oor ‘n dekselse taxi ry.
Wanneer die tewerasie by my werk vir my glimlag en ek wens ek kan haar met een snotklap so hard klap dat sy in ‘n bloedplas op die vloer lê!
Wanneer ek die vreeslikste begeertes het om wrede, onophoudelike, aksie te sien DIE HARD I, II en sommer ook III, reg na mekaar.
Dis ook die PMS-tipe wat ek verkies om te hê!
2. Tjank-PMS:
Dis wanneer alles te veel word, en daar nie genoeg tishoes in die wêreld is vir die fonteine van smart wat uit my oë bly stroom, soos die groot vloed van ouds nie!
Wanneer almal lelik is met my en niemand van my hou nie, ek die slegste ma is en alles altyd met my gebeur (blerrie ongeluk!!!!!).
Wanneer ek ‘n behoefte het om chick-flieks te kyk en niemand te sien nie, maar tog so deksels baie aandag soek!
Ek HAAT hierdie PMS-tipe!
3. Dual-PMS
Vanselfsprekend! En dis die ergste sou ek sê. Jy kan beide op een dag, verskillende tye kry. Of selfs op dieselfde tyd. Behoede die arme siel of siele wat dan in jou pad kom.
4. PMS?
Ja, glo dit of nie. Daar is wel weke wat verby gaan en waar dit my naderhand byval – PMS? Ek het dit nie gehad nie. Ek was normaal, ek was okay?
Ek bel die dokter.
“Ek het PMS gemis!”
“Mooi my liefie!”
Asof ek ‘n klein stoute, spiteful dogtertjie is wat gepotty train word! Maar Ja! Ek was net ‘n gewone mens, nie ‘n willose robot aangedryf deur simpel, klein hormoontjies nie!
Aan al die vroue daarbuite: Sterkte met PMS.
Aan al die manne daarbuite: PMS is NIE net ‘n verskoning nie!
skrywer: Mitzi Kaalsen

Mans is natuurlik anders. Ons skeer net elke dag – wat ‘n plesier..! Moenie so hard op jouself wees nie. Life is like a roller coaster – enjoy the ride!
Jy is veels te hard op jouself. Wees tevrede met die deit dat julle daaroor kan gesels. Ons mans skeer elke dag – wow! Daar is van ons wat verstaan al dink jy nie aldag so nie.