Boerpot Slot

Martin gee my een snotklap. Dit was asof ek vir ‘n paar sekondes uitgesny het. Toe ek weer by is en gereed maak om die etter te donder was die takie al klaar vir my gedoen. Gertina het vir Martin in die hande gekry. Sy klap hom wild en wakker en vra wat hom besiel om aan haar goeie ou seun te slaan. Ek weet dat sy my maar net as haar goeie ou seun beskou omdat ek geld het. Sy trek vir my en Martin aan die ore sodat ons vir mekaar om verskoning kan vra. Ek weet nou hoekom haar kinders so balhorig is. Dit moet hel wees om saam met Ouboet en Gertina te woon. Jou ore sal dit nooit hou nie. Ek en Martin doen toe maar soos wat die ou tante beveel . Ek glo nie werklik ‘n woord wat uit sy mond uit kom nie. Hy sê net jammer omdat Gertina hom dreig met sy ore . Hy dink aan die toekoms van sy gehoor. Martin weet net nie, maar ek het ook nie ‘n woord bedoel wat uit my mond gekom het nie. More sal ek hom maar eenvoudig moet fire. Ek het genoeg geld en sal sommer weer gou ‘n ander drywer kan aanstel. Hy moes gedink het voordat hy so impulsief en waaghalsig opgetree het. Waaghalsig in die sin dat ek hom mos sou verbruisel het as Gertina ons nie gestop het nie. Ek is nie verleë oor sy diens nie, maar hy is verleë oor my geld.

Daar het darem ‘n paar goeie dinge uit die gebeure gekom. Die gaste kry darem nou hulle ry. Martin en sy tjommies gaan ook nie meer hier bly nie. Dit maak ook nie saak nie. Hulle het klaar hulle doel gedien. Môre is ons ontslae van alle parasiete. Ons neem maar net doodluiters vir Ouboet en Gertina huis toe en laat hulle motor herstel. Gertina het vir Jani bed toe geneem en vertel my dat alles môre beter sal gaan. Gertina lyk baie bekommerd. Ek vra aan haar wat haar kwel. Sy sê dat sy nie daarvan hou as Jani so baie drink met die dat sy nog swanger is ook nie. Daar begin die vrou alweer. Net toe ek haar begin like wys sy maar net weer dat as jy eenmaal agterlik is. Ek moet nou ophou om my met die semels te meng. Gertina stel voor dat ek moet gaan inkruip en ‘n goeie nagrus kry. Sy verseker my dat alles môre weer beter sal lyk. Sy kyk op haar horlosie en sê: “Ok dan, ek bedoel later vandag”. Daar verander sy alweer na ‘n moederlike figuur. Dit moet seker wees hoe die hel is. Een oomblik is jy saam met welgestelde, beskaafde mense wat in jou klas val en die volgende oomblik saam met mense soos Gertina en haar kroos. Nou wil ek net in ‘n bed kom want dit is asof môre (ok dan, later vandag) ek ‘n ander lewe gaan ontvang. Een vol vreugde en geld.

In die kamer le Jani in die bed. Dit lyk of ‘n kar haar getrap het. So sal sy ook nou leer hoe om alkoholiese verversings te gebruik. Jy moet stamina hê daarvoor. Mens kan nie net drink nie. Dit moes seker moeilik vir haar gewees het om in so stywe atmosfeer (met die dat hulle gereelde kerkgangers was) in die huis groot te word. Ek val op die bed neer om te slaap. Ek voel nou hoe my kop lelik begin maal. Miskien het ek ook nie die stamina vir Martin se doppe nie. Een, Twee, Drie en my go is ook uit.

In die oggend word ons wakker gemaak deur Buks. Hy het vir ons koffie en beskuit gebring. Wanneer gaan die spul nou agterkom dat hulle nie meer welkom is nie. Om die waarheid te sê hulle hoef dit nie meer agter te kom nie. Ek neem hulle eenvoudig terug. Toe ek en Jani mooi ontwaak na die koffie, beweeg ons af na die leefarea toe. Vir ‘n slag is Gertina nogal deftig aan getrek. Ouboet lyk ook nie so sleg nie. Gertina vra aan my of ek gereed is om te ry. Hulle wil seker weer strate toe om te gaan geld mors. Dit stop net hier. Ek sê vir Gertina dat ons nie kan rondry vandag nie. Hulle moet pak. Ek meld ook sommer dat ek sal seker maak hulle motor is binne ‘n japtrap herstel. Dit is toe dat ouboet my in die rede val en sê dat ek hulle nie moet dorp toe neem nie, maar huis toe. Ek sien sommer hoe Jani se oë ophelder. Dit lyk of dinge tog vir ons sal uitwerk. Ouboet het klaar hulle tasse in my motor gelaai. Vinnig, vinnig maak ek reg om hulle huis toe te neem. Ouboet se familie groet Jani vriendelik. Almal is in die motor. Ek draai die sleutel. Kan jy dit nou glo. Net ‘n paar ploef, ploefs. Ag nee! Nie weer dit nie. Ouboet glimlag van oor tot oor. Hy hou ‘n onderdeel in sy hand. Hy het gelukkig net ‘n grap met my gemaak. Hy spring uit en sit die onderdeel terug. Jani lyk bekommerd. Ek draai weer die sleutel. Die Mercedes se enjin klink goed. Ouboet spring weer in die motor. Toe ons by die voorhek uitry vra ek aan Ouboet waar hulle nou weer woon. Gertina sê aan my dat hulle nie nou dadelik huiswaarts gaan keer nie. Ek moet hulle na neef Gert se huis toe neem. Ek smile net, want ek weet wat op neef Gert wag.

1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot

skrywer: Charl Viljoen

Charl Viljoen
Charl Viljoen

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Boerpot 3 | Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply