‘n Oggend in die lewe van ‘n pendelaar

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Vanoggend het begin soos elke oggend, vroeg uit die vere, gestort en my kop geskeer, bietjie langer gevat as gewoonlik, die hare was al vyf dae oud. By die stasie gekom met ‘n sug van verligting, dis een van die “ou” treine wat beteken sagte banke en vollop sitplek vir almal.

Oudergewoonte neem ek stelling in tussen die deure, vulsel in ‘n begrafnisbroodjie, teug rustig aan my sigaret. Dit is nie altyd ‘n goeie idee om buite die trein agter die geel lyn te staan en rook nie. Sekere drywers is nie lief vir hul fluitjies in die oggend nie, vertrek maklik sonder waarskuwing. Ek het al menige oggend amper ‘n arm verloor met treindeure wat Jaws soos ‘n goudvis laat lyk.

Ek is nuuskierig van aard, kyk al rokend rond, ‘n agent se oë is altyd oop. Ek het hom gewaar waar hy van die oorkantste platform afklim, oor die treinspoor loop en weer ons platform op. Hy leun oorkant my teen die trapreling, nie meer vandag se kind nie, vreeslik verslons met klere wat eens op ‘n tyd wit was. Ek kyk vir hom. Ek het al geleer, as iemand verdag voorkom dan kyk jy vir hulle. Die een kyk terug met drie vuurhoutjies wat by sy mond uithang. Hy klim in en mompel ‘n paar woorde in Xhoza, ek het die uit-kyk gewen.

Ek kyk hom agterna. Hy lyk nie vir my lekker nie. Al mompelend soek hy ‘n plekkie om te sit, wat ‘n tydjie gevat het, hy is kieskeurig. Hy sit uiteindelik op die bank skuins agter my, die een by die deurtjie wat lei na die volgende wa.

Ek sit met my rug na hom, sien kan ek hom nie maar ‘n mens het mos ander sintuie ook. Daai vuurhoutjies, die drie wat by sy mond uitgehang, het alles begin.

Eers was daar die swaelreuk, gevolg deur die reuk van slegte tabak. Ek het amper ophou rook.

Die rook is vergesel van ‘n hoesbui, so erg dat ek amper die man se long op die vloer begin soek het, ja long, die ander een is sekerlik al lankal uitgehoes.

Iewers was daar ook die subtiele reuk van olie. Is dit moontlik die rede waarom sy klere nie meer wit is nie? Is hy dalk ‘n motorwerktuigkundige was verkies om met wit klere sonder ‘n oorpak te werk?

Vir ‘n tydjie was die opwinding oor, dit was stil, net daai oliereuk in die lug. Toe begin papier ritsel, ‘n vreeslike heen en weer geblaaiery, soos ‘n student wat vyf minute voor die eksamen vinnig nog vir die laaste keer notas wil vaslê.

Tussen die gemompel, reuke en papier was hy vreeslik doenig met die deur. Dan is dit oop, dan toe, die tye wat hy oop was, het die hele wa gewens hulle was my niggie Lisa, Lisa het nie die reuksintuig nie. Sy in en uit by die deurtjie tussen die waens is vergesel van die nuwe reuk wat hy daar geskep het. Vars, in-jou-gesig, vroegoggend, sterk, onafgewaterde, stomende pis!

skrywer: Linda van Rensburg


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar