Oor reën, riviere en respek

In die Suid-Kaap is die weerpatrone radikaal aan die verander. Ek onthou dat so 25 jaar gelede toe my paaie met dié van Pierre Jordaan, voorheen leraar in George, gekruis het, hy my vertel het dat daar toe reeds in George klimatologiese veranderinge waargeneem is. Hy het daarop gewys dat voorheen slegs enkele mense op George tuinslange besit het, maar dat die neiging verander het. Tuinslange was toe al algemene besit en nou, 25 jaar later, nog te meer.

So het manne soos oom Hansie Uys en oom Jan Wessels (Hillsdene) vertel dat die saaiwerk in hul jongjare baie eenvoudig was. Oom Jan het geglo dat jy van die 15de Mei moet begin saai, of die grond gereed is of nie. Aan die ander kant was die koste om te saai en die hoeveelhede wat gesaai was so min, dat as daar `n probleem was met die saaiery, stukke oorgesaai kon word. Huidige hoë insetkoste en subsidiëring van die landbou deur ander lande, maak dit vir die boere redelik moeilik om net te saai.

In Heidelberg gebeur dit dat as die Duivenhoksvivier en die kanaal gelyktydig afkom, die water opstoot tot in die dorp. Stories doen =die rondte dat iemand vroeërjare daar in Fouriestraat verdrink het. Ek onthou dat oom Malan en oom Ben Odendaal in die karavaanpark gewoon het. So ‘n keer of wat het die water so sterk in die Duivenhoksrivier afgekom dat hulle die park moes ontruim.

Die reën bedien die Heidelbergers op drie wyses. Eerstens: as die wolkies oor Potberg opsteek was dit gewoonlik die Suiderreëns wat dae aaneen kon aanhou. Hierdie weer staan ook bekend as orografiese reën. Die wolke kom uit die suide en kan nie oor die Langeberge kom nie. Hierdie reën is `n sagte en deurdringende reën. As dit ‘n dag of twee geval het kom die riviere af. Dit is die tipe reën wat ons in oestyd so vrees, want dit is die tyd wanneer byvoorbeeld gars se graad sommer kan val en die inkomste radikaal minder is. Ek onthou nog hoe Eli Uys, en sy broer Wilhelm, so `n jaar gehad het toe hul gars gelyk het na saadgars en na so tien dae het die are geknak, die gars begin uitloop, en die are was so laag dat die stroper dit nie kon optel nie. Dit het ook met baie ander boere gebeur.

Oes- en skoutyd het God baie geseën met so ‘n vinnige donderstorm en daarvoor het niemand omgegee nie, want laatsomer is die damme leeg en die kos op die land min vir die vee. Hierdie reën het die manier om gou af te loop en dan kan die boerderybedrywighede weer voort gaan.

In die winter is dit die Noordwester wat waai en sy kosbare vrag in die wolke saamvoer, as die sneeu soos ‘n wit tafeldoek die berge toegooi en al wat leef bibber en beef. Watter vreugde is dit nie as die reëns op die regte tyd kom, en die aarde sy oes oplewer en `n stroom =goue graan in die massatenks val.

Maar daar was ook een nag toe die swart waters van die bolope van die Duivenhoks my amper saamgevat het. Ek het daardie dag in die Klipdrifwyk huisbesoek gedoen. Ek het vir Jannie Kleynhans by Lourens se drif gekry. Die reën het net sag begin val. Ek sou die aand my laaste afspraak met hom en Estelle gehad het. Jannie, wat die weer beter geken het as ek, het gevra of ek nie die nag maar by hulle wil slaap nie, want hy weet nie so mooi van die laagwaterbrug by Petrus nie. Met die laaste reën het die pype wat water onder die laagwaterbrug moes lei, met rivierklippe toegespoel. Al die rivierwater loop dan bo-oor die brug, wat dit baie gevaarlik maak. Ek onthou dat ek vir Jannie gesê het dat ek my vrou te lief het en nie een nag sonder haar wou slaap nie!

Na die besoek is ek toe drif toe. Dit was donkermaan, net my bakkie se ligte het die donkerte gebreek. Die water was swart soos ons bergwater ken. Ek kon ook sommer dadelik sien dat die pype onder die brug toegespoel was, aangesien al die water oor die brug in `n wit maalkolk gestroom het, terug na die rivier se loop.

Ek besluit toe om oor die brug te ry. Nog nooit in my lewe het ek in sulke omstandighede in die lig, wat nog in die donker, gery nie. Ek dog `n mens ry stadig in diep water sodat jou vonkproppe nie nat word nie, maar eers later sou ek besef dat ek juis die lepel moes intrap. Die water het die uitlaatstelsel geblokkeer en net daar in die middel van die brug gaan die bakkie toe staan. (Ek het toe nog nie geweet dat ‘n mens met jou knormoer en jou battery ook die laaste stuk kon voltooi nie.) Ek moes toe maar uitklim en stoot. Ek merk toe op dat toe ek uit die bakkie klim, die bakkie begin rivier-af dryf het, al hoe nader aan die afgrond waar die water oor die laagwaterbrug gestort =het. Ek het vinnig die bakkie gegryp en met al die krag waaroor ek beskik het na die oorkantste oewer gestoot. Dit was egter nie `n probleem nie want die bakkie was toe al lig omdat dit op die water =gedryf het!

Nodeloos om te sê dat ek daardie aand geleer het dat `n mens respek moet hê vir water en veral water wat in `n bruisende rivier afspoel na die see. Jy moet die riviere respekteer want jy kan jou so gou daarmee misreken.

Ek wil afsluit met die woorde van die ouer manne: reën =bring meer seën as wat dit skade aanrig. Dit is God se seën vir `n uitgedorde aarde!

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply