Dit was `n heerlike byeenkoms, die Bybelse ete wat deur die Kerkraad aangebied is. Klein Kippie het Wilhelm met sy baard en Bybelse gewaad aanskou, nie geweet of hy moes vlug of nie. Toe hy later mak geword het, was sy vraag: Is hy God?
Op die markplein het Gerbrandt en Louche braaikuikens en ‘n papiersakkie met `n dag of twee se kos in die sakkie verkoop. Dit was ‘n treffer onder die kinders, maar sommige ouers het dit nie goed ontvang nie, want hier was nou ‘n nuwe geslag “stoepskuiters” aan die ontwikkel.
Die pastorie het ook een kuiken vir elke kind gekoop. Pa het gevoel dat dit veiliger sal wees om eerder `n ekstra kuiken te koop, net vir die wis en die onwis. Die kuikens is gemerk en in `n hokkie aangehou. Soos die noodlot dit wou, is my kuiken gevang deur een of ander roofvoël. Dit was die nuus van die dag by die kleuterskool. Hester de Kock het daarvan gehoor en die volgende môre was sy by die pastorie met `n regte werfhoenderkuiken! Die braaikuikens was almal mooi wit en het, eie aan hul aard, baie vinnig gegroei. Die bont werfkuiken was dadelik Prinses gedoop, maar sy het nie enige koninklike afstamming gehad nie. Haar verekleed het aan Josef se kleed herinner en, soos die broers, moes ons verwag het dat daar “afguns” sou wees, want die ander kuikens was net wit.
Prinses moes met die groter kuikens oornag in die hokkie wat ons vir hulle gemaak het. Die volgende oggend het ons gemerk dat die groter kuikens die “prinsessie” afgeknou het. Haar een oog was bebloed en die ooglidjie geskeur. Ek het vir Hermien gesê dat ek dink ons vir Prinses moet dophou en miskien later sal moet “uitsit”. Die kinders het gehoor wat ek sê en saamgestem dat ons die kuiken “uit die hok moet sit”. So het Prinses se status verhoog tot huiskuiken, stoepskuiter.
Sy het Hermien aanvaar as haar ma. Ek hoor nog die pootjies se getrippel op die novilon in die kombuis as Hermien om die draai verdwyn het. As ons spaghetti geëet het, het sy op die eettafel na die naaste bord gehardloop, `n stuk gegryp en soos `n wafferse roofvoël `n slang sou doodmaak, geskud en ingesluk.
Die ander kuikens het op `n geheimsinnige wyse van die pastoriewerf verdwyn en in George, die tuinhulp, se pot beland. Maar Prinses was nog daar en dit was goed genoeg so.
Prinses het oral met die familie saamgegaan. Eendag het sy ook die verjaarsdagpartytjie gaan bywoon by die Du Plessisgesin. Toe Hermien die kinders gaan haal, het die ondenkbare gebeur. Die Du Plessiskat het hierdie voël seker al die hele tyd dopgehou en sy mond het gewater. Prinses het van hande verwissel en skielik storm die kat op die kuiken af en gryp haar in sy bek en verdwyn na `n onbeboude erf langsaan. Ons het die skreeuende en huilende pastoriekinders in die motor geboender en huis toe gery want ons was seker dat Prinses nie meer in die land van die lewendes was nie.
Skaars het ons by die huis gekom, toe bel Jeanette met die tyding: die kuiken het die wegraping oorleef, maar is ernstig beseer. Ons het haar gaan haal en gesien dat haar kroppie ontbloot was. Die kat het heel beteuterd en sonder begrip daar gestaan en is nog `n paar liefdelose woorde toegevoeg!
Prinses, die klein kuiken, het soos `n wafferse kat, die tweede aanslag op haar lewe oorleef. Sy het egter al hoe meer vir Hermien opgesoek en was doodtevrede om op ‘n sneesdoekie op Hermien se skoot te sit en slaap as die kinders nie beskikbaar was nie. Ander kere het die kuiken onvas op een van die kinders se skouers gesit. Wat `n gesig moes dit nie gewees het vir die gemeente nie – dat die mense in die pastorie `n hoenderkuiken het as troeteldier!
Prinses, die hoenderhen, en die pastorie-inwoners se paaie moes ook skei toe ons met verlof gegaan het. Elke kind, en ook ek en Hermien, het ‘n tydjie geneem om met trane afskeid te neem van Prinses, “die klein kuiken”. Ons het haar vir Rachel, ons huishulp, gegee wat later vir ons vertel het dat Prinses gereeld vir eiers op haar tafel gesorg het.
Ek het gewonder hoekom hierdie hoenderkuiken so gewild by ons geword het? Kon dit wees omdat sy weerloos en uit plek deur die lewe moes gaan en so oorleef het? En ons sou op ons beurt weer weerloos en uit plek wees met die trek na Panorama. Prinses het verstaan wat dit beteken om die vreemde te aanvaar en te vat soos dit kom.
skrywer: Emile de Villiers
