Voor ek vergeet …

“As herinneringe verdwyn, bly die liefde tussen ma en seun die enigste onthou.”

Voor Ek Vergeet … vertel die aangrypende verhaal van ‘n ma en seun, maar heel anders as die alledaagse verhale wat deesdae op die verhoog en silwerdoek te sien is, haat hulle mekaar nie.

Die diva van Afrikaanse musiek, Amanda Strydom, vertolk die rol van Hendrien Botha, en met hierdie produksie sal sy vir die eerste keer in amper 30 jaar haar buiging op die Suid-Afrikaanse verhoog maak as ‘n aktrise in ‘n drama.

“Ek het die pragtige en deernisvolle teks gelees en dadelik geweet dat ek hierdie rol wil vertolk. Ek is al so lankal lus om weer as aktrise ‘n storie te vertel, om ‘n karakter te word, en Voor ek vergeet … is perfek vir my.” vertel Strydom. “Die een uitdaging van die stuk is dat ek ‘n ma gaan speel, wat ek nie is nie, maar ek verstaan tog die komplekse verhoudings van ma’s en kinders. Ook is my karakter ongeveer 15 jaar ouer as wat ek nou is – so ek gaan ook hier ‘n paar van my vrese in die gesig moet staar.

Hannes van Wyk, beter bekend as ‘n karakter in 7de Laan, speel die rol van Hendrien se seun, Johan Botha. Hy loop al baie lank met hierdie storie in sy kop rond en het baie nou saam met die skrywer gewerk.

“Ek wou al lankal weer terug teater toe, en ek wou dit juis doen met hierdie stuk. Ek speel al so lank net die slegte seun, die slegte man, en mense wat my in die straat kry is altyd verbaas as ek vir hulle glimlag. Dalk kry ek nou die kans om met die nuwe karakter vir mense te wys dat ek nie so sleg is nie.” sê Van Wyk.

Voor ek vergeet ...
Voor ek vergeet ...

Hendrien Botha (Amanda Strydom) woon in `n woonstelletjie in die aftree- oord vir bejaardes in Johannesburg nadat sy haar hele lewe in Bothaville gebly het. Maar dinge moet verander. Sy moet trek na `n enkelkamer in die ouetehuis en haar woonstelletjie opgee. Haar seun Johan (Hannes van Wyk) het dit gereël, hy wil weet sy is in ‘n plek waar sy versorg word nadat sy haar heup beseer het, en veral nadat sy tekens van dementia begin toon.

Johan is baie na aan sy ma, hy deel haar passie vir klassieke musiek en het self ook ‘n musiekonderwyser geword. Hy het egter ‘n geheim wat hy vir sy ma wegsteek, want hy wil haar nie onnodig bekommer nie. Maar soos ‘n ma maar is, weet sy iets is fout en trek sy die geheim uit hom uit en probeer hom help om deur geloof vrede te maak met sy situasie.

Voor Ek Vergeet … is ‘n reistog van geloof, hoop en liefde wat ma en seun saam aanpak. Die stuk is deurvleg met verrassende elemente wat die gehoor die heeltyd laat wonder oor so baie dinge.

Voor Ek Vergeet … beloof baie deernisvolle situasies tussen `n ma en seun, baie lag en ook trane. `n Relevante stuk teater wat by almal aanklank sal vind en waarin elke mens homself sal herken-`n Eg eerlike en menslike drama.

Voor Ek Vergeet … debuteer by die Woordfees in Stellenbosch op 9 en 10 Maart 2012. Ook by die ABSA KKNK vanaf 31 Maart tot 3 April 2012. Bespreek by Computicket.

Met: Amanda Strydom en Hannes van Wyk

Regisseur: Gert Van Niekerk

Teks: Karen Marx

Woordfees 2012 en KKNK 2012

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar