2008 Subaru Impreza WRX STi

Wat is blou en het goue wiele? Selfs al het jy net die vaagste hoeveelheid petrol in jou are, behoort jy die antwoord te ken – Subaru se Impreza WRX STI.

Die goeie nuus is hoewel die jongste en dramaties veranderde derde generasie van hierdie ikoniese verrigtingsmotor steeds met goue allooiwiele bestel kan word, is dit nog beter nuus dat dié nuweling getrou bly aan die DNS wat daartoe gelei het dat die STI in net 14 jaar die status van lewende legende verkry het. Die beste word vir laaste gehou – die nuwe STI kombineer dieselfde fieterjasievrye bestuurservaring met die soort tegniese verfyndheid wat die bestuurder in staat stel om die grense van verrigting en hantering tot nuwe hoogtes te voer, of die motor in die meer ontspanne GT-styl te geniet. Dit kan gedoen word danksy die jongste ewolusie van Si-Drive, Driver Controlled Centre Differential (DCCD) en Vehicle Dynamics Control (VDC) – hipermoderne tegnologie wat die bestuurder in staat stel om die motor se gedrag by sy of haar vereistes en/of behoeftes te laat aanpas. Subaru se simmetriese aandrywing deur al vier wiele met die gepaardgaande horisontaalteenoorstaande BoxerT-enjin bly die kern van die STI, maar word dit die eerste keer in die vyfdeur-luikrugtomp van die jongste Impreza WRX aangetref – en dit is min of meer waar die ooreenkomste eindig.

Alles van die romp se plaatmetaal tot die wiele tot die middelewenaar tot die enjin, ratkas en remme is geheel en al hersien. Wat die bakwerk betref, is die enigste wat hulle deel die voorste deure, enjinkap en stertdeur. Die kompakte luikrug-uitleg met sy kort oorhange is gekies omdat dit in pas is met die STI se jongste posisionering as kompakte en baie ratse weeldemotor. Die motor is teen hoë snelhede baie meer bestendig op die pad danksy sy langer asafstand, terwyl sy radikale aerodinamiese eienskappe die motor in staat stel om deur die lug te klief sonder dat die voor- en agterkante opgelig word. Die ruim kajuit gee die bestuurder alles wat hy of sy moontlik sou nodig hê om te verseker hulle is en bly geheel en al in beheer van die motor.

Die Impreza STI is regoor die land te koop teen R489 000, wat ‘n waarborg van 3 jaar/100 000 km en ‘n instandhoudingsplan van 3 jaar/63 000 km insluit.

Sleutel-kenmerke sluit in: * ‘n Turbo-aangejaagde tussenverkoelde viersilinder-BoxerT-enjin van 2 457 cc wat 221 kW @ 6 000 r/min lewer en 407 Nm se wringkrag teen 4 000 r/min ontwikkel. Dubbele aktiewe kleptydreëling sorg vir die verfyning van die uitlaat- en inlaat kleptydreëling om wringkrag te verhoog, terwyl brandstofverbruik en uitlate verminder word.
* Verbeterde 6-gang-nouverhouding-handratkas met ligter, positiewer ratwisselwerking.
* Versnelling van nul tot 100 km/h in 5.18 sekondes en staande kilometer in 25.12 sekondes teen 204.8km/h. Elektronies beheerde topspoed van 253 km/h (in onafhanklike toetse aan die Rand bevestig).
* ‘n Ontwikkelde weergawe van die bestuurder beheerde middel-ewenaar (Driver Controlled Centre Differential (DCCD)) bied drie verskillende verstellings wanneer dit op outomaties gestel is om die klem op klouvermoë en stabiliteit te plaas. Ses handverstellings kan gebruik word om die middelewenaar na willekeur te verstel.
* Si-Drive sorg vir drie verskillende wringkrag-vensters: Intelligent, Sport, en Sport Sharp. Dit veroorsaak dat versneller-reaksie en wringkragkurwes by heersende rytoestande aanpas.
* Dinamiese voertuigbeheer (Vehicle Dynamics Control (VDC)) met drie verstellings. Die nuwe ‘Traction’-verstelling verhinder dat die enjinwringkrag tussenbeide tree en vertraag rem-inmenging om lewendige dog veilige rywerk in die hand te werk. Sodra die motor aangeskakel word, is die VDC-stelsel heeltemal aktief, en gebruik dit ‘n kombinasie van selektiewe remwerking en ‘n vermindering van versneller-inset om die veiligste draaitrajek te behou. Wanneer en hoeveel dit inmeng, word gegrond op sensors wat verskillende lesings soos spoed op die pad, stuurhoek en ratposisie, om maar net ‘n paar te noem, na ‘n elektroniese beheereenheid terugvoer. Die bestuurder kan die VDC ook heeltemal afskakel en na willekeur weer aanskakel.
* 40 mm-toename in die voorste wielspoor; 45 mm in die agterste wielspoor. Algehele rompwydte is met 60 mm in vergelyking met ander Impreza-modelle vergroot.
* Ligte aluminium beheerarms vir die omgekeerde stutvering voor, nuwe dubbele mikke agter.
* Brembo-remme met vaste knypers en lugverkoelde skywe voor en agter, met noodremhulp (wat die eerste keer in die 2007-modeljaar-weergawes gebruik is) sowel as opdraande-wegtrekhulp. Daarbenewens is die sportiewe sluitwerende remstelsel (sport-ABS) opgekikker.
* Ultra-ligte BBS-18×8.5J-vellings van gevormde aluminium met 245/40 Dunlop SP600 hoëverrigtingsbande.
* Vastrapewenaars voor en agter.
* Uitsonderlik ondersteunende Recaro-sitplekke – wat eksklusief vir Subaru vervaardig is – in ‘n verskeidenheid grys Alcantara-sintetiese sweedseleer en houtskool-leer.
* Voorste, kant- en gordynlugsakke regdeur.
* Xenon-kopligte met wassers, misligte voor, stuurwiel met satelliet-kontroles, hoogste gehalte voorlaai- 6-CD-klankstelsel met 10 luidsprekers en volle multimediafunksionaliteit, elektro-verligte meters (met die handelsmerk ‘Subaru-swoosj’ met aanskakeling), en aluminium sport-pedale is alles deel van die nuweling se standaard-toerusting.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply