Prinsloo Versus

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Prinsloo Versus is ´n provokerende teatrale ondersoek na die lewe, werk en wraak van die kontroversiële skrywer Koos Prinsloo. Prinsloo, een van Suid-Afrika se belangrikste en mees grensverskuiwende skrywers, is 10 jaar gelede dood aan Vigs-verwante oorsake, maar kry dit steeds reg om gemoedere om te klits in dié nuutgeskrewe toneelstuk.

As skrywer het Prinsloo dikwels sy leserspubliek geskok met sy vernuwende aanslag, sy brutaal eerlike (en dikwels kru) kortverhale en sy omstrede leefstyl. Die teks, geskryf deur Adriaan Meyer, kyk veral na die skrywer (gespeel deur Jacques Theron) se troebel Oedipale verhoudings met die vaderfigure in sy lewe, naamlik sy biologiese pa en mentor Hennie Aucamp (beide gespeel deur Ockie Coetzer).

Die postmodernistiese vermenging van feit en fiksie vervorm sy verhale tot ´n vorm van sluipmoord, deurdat die autobiografiese inhoud en persoonlike onthullings daarin dikwels baie publieke figure, soos Johannes Kerkorrel en Hennie Aucamp, te na gekom het. Dít sorg vir ´n veelvlakkige uitbeelding op die verhoog en skep ´n boeiende spanning tussen werklikheid en representasie. Ander temas sluit in sy homoseksuele leefstyl, sy stryd met VIGS en sy uitbeelding in die pers.

Die teks het ´n eksperimentele, vernuwende en konfronterende benadering en is geskryf in Prinsloo se dokumentêre, collage-styl. Die dramaturg figureer as ´n karakter en tree op as gids vir die gehoor – met behulp van ´n oorhoofse projektor wat die nodige informasie, nuanses en stel-inkleding verskaf. Die gehoor word ´n metateatrale ervaring gebied waar hul self moet besluit wat (en wie) om te glo. Drie kenners van sy oeuvre (naamlik Riana Scheepers, Johann de Lange en Danie Botha) lewer deurgaans kommentaar op sy lewe en skryfwerk deur middel van klankopnames.

Dié produksie is nie net ´n moet vir almal wat reeds Prinsloo se werk ken nie, maar ook vir diegene wat nog in die donker is. Die regie is deur Adriaan Meyer. Jacques Theron, Ockie Coetzer, Stian Bam, Eben Genis, Alwyn Kotzé, Louis Pretorius, Quentin Krog en Jonathan Du Preez is in die rolverdeling.

Let op dat die stuk meer geskik is vir volwasse gehore.

Lewer kommentaar

Leave a Reply