In die toekoms kan dit dalk net moontlik wees om Robocop te speel, indien ‘n ontwerp van Eun-Gyeong Gwon en Eun-Jae Lee dit tot op die rak maak. Hulle het kontaklense ontwerp, I Contact, met sensors in die lense wat die bewegings van jou oogbal volg en die inligting met jou rekenaar kommunikeer. Die proses is iets soortgelyk aan dit wat gebruik word vir ‘n draadlose muis.
Hierdie uitvindsel behoort jou meer produktief te maak aangesien jou hande baie stadiger beweeg as jou oë en jy dus baie vinniger sal kan werk met jou muisfunksie. Jy klik deur jou oë te knip.
Die lense is oorspronklik ontwerp vir gestremde persone, maar dit sal beslis ‘n groter mark vind. Hulle sukkel nog om ‘n kragbron te vind wat die lense kan aandryf. Op die stadium lyk dit asof jy hulle gereeld sal moet uithaal om te herlaai.
