Die Mapungubwe Nasionale Park is by die sameloop van die Limpopo- en Shaserivier geleë. Dis ’n oorgrenspark geleë in Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika. Een van Suid-Afrika se belangrikste argeologiese terreine is in die park, die stad Mapangubwe. Die stad het na beraming in die jaar 1075 begin ontwikkel, maar was teen 1290 ontruim. Vandag is dit ’n wêrelderfenisgebied.

Mapungubwe heuwel, Limpopo, Suid-Afrika (foto: Marius Loots, 2003)

Mapungubwe beteken plek van die jakkals. Dit was ’n koninkryk met die koning wat in klipgeboue op die kruin van die heuwel gewoon het. Die koning se familie het laer af teen die heuwel gewoon en die gewone mense onder op die vlakte. Die totale bevolking was iewers tussen 3 000 en 4 000.

Goud is in Mapungubwe gesmelt, katoen is gekweek en ivoor- en kleiartikels is vervaardig. Beesboerdery was ’n baie belangrike deel van die ekonomie. Hulle het waarskynlik handel gedryf met seevaarders van die Midde-Ooste en Indië.

Die “kroonjuwele” van Suid-Afrika is hier ontdek in die 1930’s, die Mapungubwe-goudversameling.

Klimaatsverandering en ’n gebrek aan weiding het waarskynlik veroorsaak dat die stad mettertyd ontruim is.

Mapungubwe, Limpopo, Suid-Afrika (foto: Toerisme Suid-Afrika, 2015)

Lewer kommentaar

Leave a Reply