“Wat my betref, reis ek nie om na enige plek te gaan nie, maar om te gaan. Ek reis om te reis. Die groot ding is om te beweeg.” – Robert Louis Stevenson
Elkeen se lewensreis begin by sy moeder, daarom is dit gepas dat enige reis deur Suid-Afrika in Kaapstad begin.

Kaapstad, ook bekend as die Herberg van die See, se unieke kosmopolitaanse karakter kan toegeskryf word aan haar kleurvolle geskiedenis. Die stigting van ´n verversingspos deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie in die 17de eeu het Kaapstad die halfweg punt gemaak van ´n baie winsgewende handelsroete tussen Europa en die Ooste. Die Europese, Asiatiese en Afrika-invloede is duidelik te sien in Kaapstad se unieke karakter. So byvoorbeeld bied ´n besoek aan die Bo-Kaap ´n kleurvolle blik op die invloed van die Maleise kultuur op die Moederstad. Die Britse en Nederlandse invloed is ook duidelik te sien in Kaapstad se argitektuur.
Kaapstad en die onmiddellike omgewing bied iets wat elkeen se voorkeure en smake sal bevredig. Vir die wat in die lewenstyl en argitektuur van Kaapstad belangstel, is ´n dagstap deur die middestad ´n moet! Kry vir jou ´n gidsboek of ´n geregistreerde toergids om jou te begelei, maar doen jouself die guns, beleef die mense, die geboue, die rustige atmosfeer en vriendelik gesigte van Kaapstad!
Van die besienswaardighede wat in die middestad besoek moet word sluit in ´n asemrowende rit op teen Tafelberg met die kabelkarretjie (avonturiers kan dit gerus stap), die Kasteel, die Kultuur Historiese Museum, die blommeverkopers op die Parade en by Trafalgar Place in Adderley Straat, en Groentemarkplein met al sy stalletjies en mense. Die Tuine met al sy historiese geboue (Parlement, Suid-Afrikaanse Biblioteek, Suid-Afrikaanse Museum en Planetarium) moet definitief ook hoog op u lys van besoeke wees!
Tog is Kaapstad veel meer as net ´n stad met ´n klomp ou geboue wat aan die voet van ´n plat berg lê. Kaapstad is net so bekend vir sy naglewe as vir sy natuurskoon en argitektuur. Van Kloofstraat se restaurante tot die V&A Waterfront met al sy winkels, hotelle, Craft Market, restaurante, Twee Oseane Akwarium, Imax-teater en vele meer, sal elke kieskeurige besoeker aan Kaapstad sekerlik iets vind om hom of haar van liggaam en siel te voed.
(oorspronklik verskyn in 2004)
