In 1598 is die Edik van Nantes uitgevaardig wat protestante volle geloofsvryheid en gelyke regte met katolieke gegee het. Dit het die geloofsoorloë in Frankryk vir ’n tyd lank beëindig. Die herroeping van die Edik van Nantes op 8 Oktober 1685 onder Lodewyk XIV het ’n bloedige vervolgingsveldtog onder die protestante in Frankryk ontketen. Die wat kon ontsnap het na ander Europese lande soos Engeland, Switserland, Duitsland en Holland gevlug. Vanaf 1688 tot 1689 het sowat 180 van hierdie Franse vlugtelinge (Franse Hugenote) in die Kaap aangekom.

Die herroeping van die Edik van Nantes deur Lodewyk XIV (Grafika: Jan Luyken,  1649–1712)

Dit is bekend dat hierdie groep vlugtelinge merendeels landbouers was. Daar is gehoop dat die kundige landbouers die Kaapse verversingspos beter sou laat funksioneer. Plase is aan hulle gegee deur Simon van der Stel in die Drakenstein-vallei (Paarl), Franschhoek en rondom Stellenbosch.

Met hulle aankoms aan die Kaap het die Franse slegs ’n sesde van die boerebevolking en ’n agste van die totale bevolking uitgemaak. Die eerste klompie jare na hulle aankoms het hulle gestry vir die behoud van hulle taal. Hierdie stryd het hand aan hand geloop met hulle pogings tot toestemming om ’n aparte gemeente en skool te stig. Die Here XVII het in 1690 toestemming daarvoor. As voorwaarde moes die kerkraad tweetalig wees, en die Hollandse en Franse kinders onder een dak skoolgaan. Hierdie beleid van geleidelike verhollandsing het egter tien jaar later plotseling tot n einde gekom toe die Here XVII die gebruik van Frans in die kerk en skole geheel en al verbied het. Die Hugenote was geensins hiermee geneë nie, en toe versoekskrif na versoekskrif deur hulle aan die owerhede gestuur word, is die saak deur die Kompanjie direkteure in die hande gelaat van goewerneur Willem Adriaan van der Stel.

Hoewel Frans nog tot omstreeks 1726 op sporadiese wyse gehoor is op skool en in die kerk, het die gebruik daarvan geleidelik afgeneem. Die Franse sterrekundige Nicolas-Louis de Lacaille wat in 1751 die Kaap besoek het skryf dat hy niemand onder die ouderdom van veertig jaar teëgekom het wat nog Frans kon praat nie.

Benewens die verhollandsingsbeleid kan die vinnige uitsterf van die Franse taal in Suid-Afrika waarskynlik ook toegeskryf word aan die basiese ongeletterdheid van die Hugenote wat hierheen gekom het. Hierdie feit verduidelik ook waarom hulle bydrae tot die Africana-literatuur relatief beperk is. Die Hugenote wat wel geletterd was het net geskryf wanneer dit nodig was, en dus nie die Franse taal d.m.v. literêre uitings hier aan die suidpunt van Afrika aan die lewe kon hou nie.

Die Franse gemeenskap het geleidelik hulle aparte identiteit prysgegee. Die dikwels onsimpatieke houding van die goewerneur word ook verduidelik deur die feit dat Holland sedert 1688 weereens in oorlog teen Frankryk gewikkel was. Daar was die konstante gevaar van ’n Franse aanval op Tafelbaai, en Van der Stel was onseker oor die mate waarin hy werklik kon staatmaak op die lojaliteit van die Franse vlugtelinge.

Die geskiedenis bet egter bewys dat die goewerneur se vrese ongegrond was, en dat by onbewustelik self die vernaamste rede vir die vereniging van die Franse met die Hollanders was. Die Hugenote het naamlik in verset teen veral die ekonomiese beleid van die goewerneur gekom, en bulle geskaar by die Hollandse koloniste, en hierdie gesamentlike stryd teen die owerheid het die vereniging van Fransman en Hollander versnel soos geen regeringsmaatreël dit sou kon doen nie.

Die vorming van die unieke gemeenskap van Europeërs met mekaar en met Afrika word gereeld geïllustreer deur te verwys na die betekenisvol1e historiese uitroep: “’K ben een Africaander” op Stellenboscb in 1707 wat toegeskryf word aan ’n jong seun met ’n Franse van, te wete Hendrik Bibault. Hendrik was die seun van Diedlof Bibault, oorspronklik van Duitsland afkomstig, maar te oordeel aan die van waarskynlik ’n Franse Hugenoot. Hendrik se ma was die Hollandse weesmeisie Willemijntie Adriaansse.

“Africaan”, “Africaander” en “Africaaner” is in die 17de eeu in die Kaapse artikels alleenlik gebruik om te verwys na ’n  “naturel of inlander”. So 19 jaar na hul aankoms aan die Kaap het Franse Hugenote hulself beskou as mense van Afrika. Die Franse Hugenote se rol in die opbou van die land is goed genoeg geag om onder meer aanleiding te gee tot ’n Hugenote-Gedenkmuseum.

Hugenote-Gedenkmuseum (foto: Morné van Rooyen, 2010)

Lewer kommentaar

Leave a Reply