Toe Suzuki met die aanvanklike ontwerp van sy jongste, derde-geslag Grand Vitara begin het, moes die maatskappy die aansienlike tradisie van die naamplaat in ag neem terwyl die toekomsrigting van sy voorste kompakte sportnutsvoertuig terselfdertyd bepaal moes word.
Die resultaat daarvan is ‘n ontwerpkonsep wat intern as “die veldry-atleet” bekend staan. Dié benaming verwys nie net na die nuwe voertuig nie, maar ook na die manier waarop die ontwikkelingsproses aangepak is.
Suzuki se ingenieurs en ontwerpers het die Grand Vitara-projek benader soos atlete wat ‘n strawwe oefenprogram aanpak om hul vermoëns onder selfs die veeleisendste toestande te bewys.
Dit is daarom glad nie verbasend nie dat die ontwerp van die nuwe Grand Vitara ‘n mens laat dink aan die voorkoms van ‘n kampioen-atleet in ‘n snyerspak: ‘n gespierde en afgerigte vorm onder ‘n stylvol beklede silhoeët.
“Die styl, emosie en dinamiek versinnebeeld ‘n mededingende voertuig wat tot dusver net met welslae beloon is,” sê Koji Yamada, uitvoerende beampte vir die Grand Vitara-projek by Suzuki se SNV-lyn.
“‘n Meer gesofistikeerde ontwerp, groter gerief, beter praktiese eienskappe en verbeterde werkverrigting op die pad en in die veld was van die belangrikste faktore wat volgens ons die Grand Vitara vir ‘n nog groter motorgehoor aantreklik sou maak.
“Maar die een element wat onveranderd gebly het, was die Grand Vitara se wenrekord. En dit het beteken dat ons ook aandagtig moes luister na die menings van ons bestaande klante regoor die wêreld wat ontwerp, verpakking, toerusting en tegnologie, veiligheid, veldryverrigting en omgewingsvriendelikheid betref.”
Dit het daartoe gelei dat die aansienlike verbeterings wat deur die nuwe Grand Vitara gebied word, telkens deur die voertuig se tradisie van welslae beklemtoon is.
Yamada glo dié jongste model sal nie net in die smaak van bestaande Grand Vitara-eienaars val nie, maar ook diegene bekoor wat nog nie voorheen met ”n Grand Vitara kennis gemaak het nie.
“Ek glo graag dat ons passie en verbintenis tot uitnemendheid ‘n kompakte SNV tot gevolg gehad het wat so opwindend en so pretgerig is dat mense dit oral sal wil ry,” het Yamada afgesluit.
Die ontwikkeling van die nuwe Grand Vitara neem nie net kennis van wêreldtendense nie, maar omarm ook Suzuki se kernwaardes. Algehele verbetering en verfyning, tesame met ‘n uitmuntende reputasie vir vierwieldryf-verrigting, was die fondament van die ontwikkelingsdoelwitte, wat elemente soos sportiewe bestuursplesier, pretgebruik en eienaarstrots in die visier gestel het.
‘n Belangrike invloed op die ontwerpproses was die meerdoeltendens wat eis dat SNVs ewe goed in die veld as in stedelike omstandighede vaar. Tog het die ontwerpspan wegbeweeg van generiese ontwerpe en ‘n vernuftige SNV met ‘n skoon, foefievrye voorkoms geskep wat steeds die veelterrein-verrigting van die vorige weergawe kon handhaaf – en selfs daarop kon verbeter.
Produkklinieke wêreldwyd het bevestig dat die ontwerp, verrigting en ritgerief aan verwagtinge voldoen, en dat die internasionale ontwerprigting ook universeel byval vind. Die uiteindelike produksieweergawe is derhalwe werklik die resultaat van globale bemarking en ingenieursvernuf van wêreldgehalte.
Op ‘n praktiese vlak beteken die nuwe Grand Vitara se kompakte afmetings dat hy uiters maneuvreerbaar is en ook stedelike verkeersomstandighede maklik baasraak. Die nuweling se betreklik lae massa het ook brandstofbesparing tot gevolg – ‘n faktor wat binne die raamwerk van omgewingsbewaring van kernbelang is.
Deur die voorwiele op die hoeke van die voertuig te plaas, word die oorhange beperk, wat op sy beurt vir ‘n relatief langer asafstand sorg en dus meer beenspasie en ‘n groter binneruim bied.
Die sportiewe binneruim pas volmaak by die Grand Vitara se buitestilering en versinnebeeld beide weelde en ‘n honger na avontuur. Sterk visuele aksente en klassieke vorms smelt saam – en so ook aantreklike ontwerp en praktiese funksie – om swier en bruikbaarheid ewe sterk uit te druk.
Vloeiende lyne en ‘n skoon uitleg word deur die smaakvolle kleurskema en deftige materiale beklemtoon. Die monochromatiese binneruim maak van silwer aksente en ronde vorms gebruik, weereens met beide funksie en estetiese ontwerp as kernelemente.
Suzuki se sterk SNV-herkoms word beklemtoon deur die geometriese ontwerp en tasbare teksture van die bekleedsel, met ‘n algehele vlak van gehalte wat goed lyk en goed voel.
Dat Suzuki op selfs die kleinste besonderhede ag slaan, word bewys deur die monteerintegriteit, en die gehalte van die afwerkings. Boonop is die gladde oppervlaktes en geronde kante van meer as net visuele waarde: dit verminder ook die gevaar van minder ernstige beserings wanneer daar met mening in die veld gery word.
Grondige ontwikkeling van die onderstel en die bakwerk, asook daadwerklike pogings om geraas- en vibrasievlakke ingrypend aan te spreek, beteken dat die Grand Vitara met ‘n stil en gladde rit spog.
Die klimaatbeheerstelsel, met sy ingeboude stuifmeelfilter, hou die temperatuur binne gerieflik in toom, en in die winter is daar ‘n warm lugkanaal spesifiek vir agterste insittendes. Die klankstelsel is ontwerp om ‘n strelende musiekervaring voor en agter te waarborg.
Die ontwerp van die nuwe Suzuki Grand Vitara slaag omdat dit binne en buite aantreklik vertoon, en in die praktyk behoorlik werk. Dit sorg boonop dat die Grand Vitara die tradisie van uitnemendheid voortsit wat Suzuki reeds beroemd gemaak het.
