Ondanks die inherent dinamiese veiliheidsvoordeel danksy die kombinasie van simmetriese aandrywing deur al die wiele en ‘n dryfstelsel met ‘n lae swaartepunt, het Subaru se ingenieurs ook heelwat aandag geskenk aan passiewe veiligheid om die hoogste vlak van algehele veiligheid en vertroue te verskaf, of jy nou op ‘n reëndeurdrenkte pad ry en of jy in ‘n onvermydelike ongeluksituasie beland.
Dit word verder bevestig deur die feit dat die nuwe Subaru Impreza WRX sedan die maksimum vyfster-gradering vir die veiligheid van insittendes dra wat deur die onafhanklike Australiese program vir die veiligheid van nuwe motors (ANCAP) toegeken is.
“Ons is vol vertroue dat die Subaru as ‘n oorkoepelende pakket die heel beste bied in terme van veiligheid in die ‘regte’ wêreld. Ons het ‘n holistiese benadering gevolg toe ons die nuwe-geslag Impreza ontwerp het deur die inherente voordeel van die dryfstelsel aan te vul met ‘n aantal bykomende kenmerke om aan motoriste beskerming op vele vlakke te bied,” sê Grant Bowring, SSA se handelsmerk- en bemarkingsbestuurder.
Hy wys ook daarop dat, anders as lugsakke en die sitplekgordelstyftrekkers, werk Subaru se dryfstelsel deur al vier wiele die hele tyd om ‘n helpende hand te bied, dikwels sonder dat die bestuurder dit eers weet. Die aandrywingstelsel word egter aangebring bykomend tot en nie in die plek van die ander algemene lewensreddende veiligheidseienskappe nie.
Die Impreza sedan is byvoorbeeld toegerus met dubbele lugsakke voor, aan die kante en gordynlugsakke, voorste sitplekgordels met voorspanners en lasbeperkers, ISOFIXmonterings vir kindersitplekke en sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding (EBD) en ‘n remhulpstelsel (Brake Assist).
Die Impreza se bakwerk is ‘n meesterstuk van intelligente ontwerp. Deur vier verskillende soorte staal in die konstruksie te gebruik, het die ingenieurs daarin geslaag om ‘n kombinasie van ligte gewig en stewigheid en sterkte in kritiese areas te skep.
Versterkte laste, langer frommelsones, bykomende vangplekke wat die agterdeur in posisie hou in geval van ‘n ongeluk (en dit makliker maak om dit agterna oop te maak) en wat Subaru die ‘Reaction Force Suppor Areas’ noem – ‘n stelsel van rekenaarontwerpte laspunte wat kragte deur die struktuur versprei – verseker verder die integriteit van die passasierskajuit in die geval van ‘n ongeluk.
Ander noemenswaardige veiligheidstelsels op die Impreza-sedan sluit in energieabsorberende aktiewe kopstutte, vier hoogteverstellings vir die voorste sitplekgordels, sitplekke wat sweepslag verminder, en driepuntsitplekgordels vir al die agterste insittendes. Die Impreza-sedan handhaaf die handelsmerk se trotse posisionering as aanspraakmaker as die wêreld se veiligste motor in sy klas met inagneming van die manier waarop dit al die soorte veiligheidstelsels integreer. As ‘n bykomende bonus bied dit ‘n hoë vlak van bestuursgenot en ‘n gevoel van algehele beheer.
