Die jongste generasie van die Subaru Legacy- en Outback XUV-nutsmotor-modelle is nou in Suider-Afrika te koop, en gee Subaru ’n unieke produk-aanbod in die vooraanstaande sedan- en weelde-stasiewamarkte onderskeidelik. Die siel van hierdie twee produkreekse bly die unieke vermenging van Subaru se simmetriese aandrywing deur al die wiele en sy horisontaal-teenoorstaande Boxer-enjin wat perfek gebalanseerde hantering en skitterende aktiewe veiligheid bied, en in die geval van die Outback ook ’n hoër ryhoogte vir sy gebruik as pad- en veldrymotor.
“Die volgende geslag van die Legacy en Outback sal Subaru tot diep in die tweede dekade van die 21e eeu neem, en hulle is perfek geposisioneer om in die behoefte van kieskeurige kopers te voldoen wat die beste op die gebied van ruimte as ’n volgrootte sedan, gemak, veiligheid en waarde wil hê,” het Grant Bowring, Subaru Suider-Afrika se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, gesê. “Die Legacy is ’n sedan wat aan al daardie vereistes voldoen, maar ’n oorwegende sportiewe karakter byvoeg, wat dit ’n motor maak wat ’n mens met die kop en met die hart kan koop om ’n opwindende alternatief vir die alledaagse te bied. Die Outback bied aan die ander kant die veelsydigheid en praktiese gebruik van ’n stasiewa tesame met werklike pad- en veldryvermoë – en voeg dié twee eienskappe danksy die lae swaartekragmiddelpunt van sy Boxer-enjin en simmetriese aandrywing deur al vier wiele naatloos saam sonder die soort tekortkominge wat gewoonlik met sportnuts-tipe voertuie verbind word. Die nuweling se prys in verhouding tot die omvattende lys toerusting, wat nie in hierdie klas voertuig geklop word nie, maak dit nog meer onweerstaanbaar.”
Drie weergawes van die Legacy is met ’n keuse van twee enjins beskikbaar: ’n 2,0-literenjin van 110 kW en 196 Nm, en ’n 2,5ℓ-weergawe van 123 kW/229 Nm. Twee Outbackmodelle is beskikbaar en word deur die 2,5-liter-enjin aangedryf.
Kernhoogtepunte van die nuwelinge sluit in:
Groter passiewe veiligheid – ’n knielugsak vir die bestuurder bring dié aantal bykomende veiligheidsmeganismes regdeur die reeks op sewe te staan, en die nuwe ‘wiegraam’-enjinmontering-hoofstruktuur sorg vir beter voorkantbotsbeskerming. Al die Legacy/Outback-modelle geniet ’n vyfsterbotstoetsgradering vir die beskerming van die insittendes deur die Australiaanse nuwemotor-botstoetsprogram (ANCAP), en ’n vyfster-gradering algeheel in die Europese nuwemotor-botstoetsprogram (Euro NCAP), sowel as ’n topveiligheidsgradering by die Amerikaanse versekeringstigting vir snelwegveiligheid (IIHS) in die VSA.
Verbeterde aktiewe veiligheid – dinamiese voertuigbeheer en remhulp in al die modelle.
Aansienlik verbeterde dryfstelsels, met die keuse van Lineartronic, Subaru se palwissel-transmissie, en ’n nuwe ligte 6-gang-handratkas wat met kabelwisseling werk.
Beter rit en hantering danksy die dubbelmikveer-agtervering, ‘wiegraam’-enjinmonteringhoofstruktuur en ’n stywer onderstel
Hersiene wringkrageienskappe vir verbeterde rybaarheid.
Laer brandstofverbruik – in sekere gevalle tot 11 persent minder. Die Legacy 2,5i Lineartronic se verbruik in die gekombineerde siklus is nou net 8,4ℓ/100 km teenoor die 9,3ℓ/100 km vir die ooreenstemmende motor van die vorige geslag.
Die enjins is hersien om aan die Euro5-uitlaatvereistes vir 2010 te voldoen.
Die brandstoftenk se inhoudsvermoë is tot 65 liter verhoog, wat in samewerking met die beter brandstofekonomie vir ’n groter reikafstand sorg.
Dramatiese verbeterings in kajuitruimte – veral agterste beenruimte – danksy ’n toename van 80mm in die Legacy se asafstand en 75mm vir die Outback. Die asafstand vir al twee weergawes is die langste in hul klas.
Groter bagasieruimvermoë danksy die 80mm-toename in die algehele lengte van die Legacy en 65mm vir die Outback.
Meer ruimte om rond te beweeg en werklike vyfsitplek-status danksy ’n 50mmtoename in die breedte van die kajuit.
Meer bergplek tussen die voorste sitplekke danksy die ingebruiknemening van ’n elektriese parkeerrem regdeur die reeks.
Elektries verstelbare bestuurdersitplek met geheue-werking, leerbekleedsel, dubbelsone-klimaatbeheer, luguitlate agter, sondak, spoedbeheer, volledige ritrekenaar en 6-skyf-CD-wisselaar wat in die voorpaneel ingebou is, met ’n punt vir bykomende klanktoerusting, is alles deel van al die nuwe Legacy- en Outback-modelle se standaard-toerusting.
Kommervrye eienaarskapservaring danksy ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km en instandhoudingsplan van drie jaar of 63 000 km.
Die nuwe Legacy-modelreeks bestaan uit:
Legacy 2,0i Premium – met die keuse van ’n 6-gang-handratkas of die Lineartronic-palwissel-transmissie, leerbekleedsel, elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek met geheuewerking, elektries beheerde sondak en 16-duimallooisierwiele. Pryse: R 299 000 (6-gang-handrat) R 311 000 (Lineartronic)
Legacy 2,5i Sport Premium CVT – ook met elektriese beheer vir al twee voorste sitplekke, koolstofvesel-invoegsels in die voorpaneel, alluminiumallooipedale, sportstamper en -sierrooster voor, Bilstein-vering, 18-duim-allooisierwiele en Xenon-kopligte met ingeboude wassers. Prys: R345 000
Die nuwe Outback-reeks bestaan uit:
Outback 2,5i Premium – met die keuse van ’n 6-gang-handratkas of die Lineartronic-palwissel-transmissie, leerbekleedsel, elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek met geheuewerking, elektries beheerde sondak en 17-duimallooisierwiele en luguitlate agter. Prys: R 345 000 (6-gang-handrat), R 358 000 (Lineartronic)
