Die jongste geslag Legacy-sedan en Outback XUV-nutsmotor is die veiligste motors wat Subaru nog gebou het, met ’n vyfster-gradering in die Australiaanse nuwemotorbotstoetsprogram (ANCAP), en ’n vyfster-gradering algeheel in die Europese nuwemotor botstoetsprogram (Euro NCAP), en dit reg van die begin af.
Subaru se reputasie aan die veiligheidsfront, wat aktiewe en passiewe veiligheidsvereistes sonder enige ander fabrikaat kombineer, is goed bekend. Eersgenoemde is gegrond op ’n uitleg van permanente aandrywing deur al vier wiele wat verseker dat die wiele wat die wringkrag die beste kan benut om volmaakte klouvermoë en stabiliteit te bewerkstellig, kry dit wanneer hulle dit nodig het, terwyl die simmetriese uitleg van al die dryfstelselkomponente sorg vir hanteringsbalans en voorspelbare gedrag ongeag die toestande. Subaru noem dit Symmetrical All-Wheel Drive.
Elke nuwe Legacy-sedan – en Outback XUV – het hierdie tegnologie, maar voeg daarby ’n romp wat op belangrike sleutelpunte versterk is, sowel as ’n rewolusionêre impakfrommelsone aan die voorkant wat ’n wieg insluit waarin die enjin en ander dryfstelselkomponente gehuisves word. Dit het ’n groter frommelsone in die snoet moontlik gemaak danksy die wieg wat in die geval van ’n botsing ineenvou en die enjin afwaarts en onder die motor in laat skuif eerder as opwaarts waar dit die kajuit kan binnedring. Nog iets wat nuut is, is ’n skuif na ’n energie-absorberende staal-enjinkap, wat voetgangerbeskerming verhoog, terwyl die Outback nou ook ’n staal-stertdeur het
om beskerming in die geval van ’n botsing van agter te verhoog.
Hoësterkte staal word in kritieke gedeeltes van die romp ingespan om dit algeheel sterkter te maak, terwyl dit terselfdertyd gewig verminder. Die A-pilare en die voorvering se hegpunte is byvoorbeeld heelwat sterker as voorheen, maar weeg nou 3 kg minder – iets wat deur versigtige ontleding bewerkstellig is deur werklikheids- en rekenaar-ontledings te doen oor wat alles in die geval van ’n botsing gebeur.
Vier verskillende grade staal word gebruik, waarvan die hardste vir die B-pilare en deurdrumpels ingespan word ten einde die kajuit te versterk en binnedringing in die geval van ’n botsing van die kant af te beperk. Toerusting soos dubbele syslagstawe in elke deur en die ligging van die deure se binnegoed om die beste frommelbare ruimte tussen die panele te verseker, help om die insittendes in die geval van ’n botsing van die kant af – een van die grootste oorsake van noodlottige botsings – verder te beskerm.
Subaru se hoogsaangeskrewe ringvormige skermsturktuur, wat kragsirkels horisontaal en vertikaal in lyn met die A-, B- en C-pilare – en in die geval van die Outback ook die D-pilaar – bewerkstellig, verseker dat die passasierskajuit sy vorm in die geval van ’n rolslag behou. Die agterste veiligheidsel se raamstruktuur is verbeter sodat dit langsamer saampers. Dit absorbeer energie ten spyte van die kort oorhang meer doeltreffend.
Die Legacy en die Outback is die eerste Subaru-modelle wat ’n knie-lugsak vir die bestuurder gebruik. Dit verhinder dat die bestuurder se knieë en onderbene die stuurkolom en ander komponente onder die voorpaneel tref. ’n Voetrus word verder ondertoe in die bestuurder se voetholte aangetref, wat van ’n impak-absorberende materiaal gemaak is en ontwerp is om beserings aan die onderbeen in die geval van ’n ernstige botsing van voor af te verminder. Die koppelaar-en rempedale is ook herontwerp om beter te verfrommel.
Elke Legacy- en Outback-model het buiten die nuwe knie-lugsak ook dubbele lugsakke voor, kantlugsakke en lugsakgordyne. Die sensors in die romp is verfyn om vinniger op ’n groter verskeidenheid botssituasies te reageer. Die kantlugsakke en lugsakgordyne is groter om die insittendes nog beter te beskerm.
’n Nuwe poeier-tipe gasopwekker wat die lugsakke opblaas en kleiner en ligter is, word die eerste keer deur Subaru vir die kantlugsakke gebruik. Die voumetode en vorm van die lugsak is verder ten gunste van vinnige ontplooiing en beter beskerming ontwikkel. Die nuwe voertuie het ’n aansienlik stewiger sitplek, wat beter steun in die geval van ’n botsing bied. Die voorste sitplekke het nou skokabsorberende werking wat die insittendes se beweging na agter beheer, terwyl die kopstutte ontwerp is om die nuwe sitplekke aan te vul en die insittende se kop te steun en sodoende te help dat die liggaam in die regte posisie onder die sitplekgordel bly. Die agtersitplekke het ’n nuwe ingeboude dwarsbalk wat verhinder dat die insittendes onder die gordels uitgly.
Wat aktiewe veiligheid betref, het Subaru voertuigstabiliteitsbeheer in al die modelle aangebring. Dit kan in die sedan geheel en al afgeskakel word, maar in die hoër Outback kan net die kloubeheer-werking van die stelsel afgeskakel word, soos vir situasies waar groter enjinwringkrag in modderige toestande vereis word.
Die remstelsel behels omvattende remtegnologie vir wanneer dit nodig is, en sluit in sluitwerende remme, elektroniese remkragverdeling (om gebalanseerde en voorspelbare remverrigting ongeag die oppervlak of lading van die voertuig te verseker) sowel as remhulp, wat sekere inligting (soos die tempo waarteen die rempedaal getrap word) gebruik om die remkrag te verhoog tot ’n punt waar die ABS tussenbeide tree en remverrigting vervolmaak word.
“Dit het mode geword om veiligheid in die bemarking van voertuie te beklemtoon, maar dit is al lank deel van Subaru se bemarking,” het Grant Bowring, Subaru Suider-Afrika se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, gesê. “Subaru se benadering was nog altyd vars en deursigtig met die doel om beskerming vir die insittendes en steunstelsels vir die bestuurder te bied wat die motor so veilig as wat dit in ’n wye verskeidenheid toestande moontlik kan wees, sal maak. Geen Subaru voldoen beter daaraan as die jongste weergawe van die Subaru Legacy en Outback nie.”
