Peugeot se 308 SW … alles wat jy soek

Sy DNA is onmiskenbaar, maar die 308 SW neem Peugeot se vertolking van die gesinsvriendelike leefstylvoertuig `n vlak hoër. Deur die styl en veiligheid inherent aan die 308-luikrugreeks te behou en te kombineer met uitsonderlike ruimte en veelsydigheid gepaard met die eenstukglasdak wat ook `n kenmerk was van sy voorganger – die suksesvolle 307 W – bied die jongste weergawe `n samestelling van sportiewe kenmerke soos geen ander voertuig in sy klas nie.

“Moderne gesinne is op soek na leefstylvoertuie wat meer as `n tradisionele stasiewa bied,” sê Mike Wilson, Hoofbestuurder, Bemarking van Peugeot Motors Suid-Afrika. “Maar daar is ook `n beduidende aantal wat spesifiek nie `n veeldoelige voertuig wil hê nie, wat alte dikwels weinig ekstra praktiese aspekte bied dog opofferings verg ten opsigte van estetiese en dinamiese vermoë as gevolg van die hoë swaartepunt.”

Die SW is ook betekenisvol vir die maatskappy omdat dit die eerste ‘kroonblaartjie’ van die 308-blom is en in komende maande sal addisionele modelle by hulle geledere aansluit, gebaseer op dieselfde platform wat onderskeie marksegmente dek.

Die verlengde bakwerk van Peugeot se sportwa (wielbasis is met 10 cm verleng vergeleke met die luikrug) laat ruimte vir bykomende bagasie of `n derde ry sitplekke. Die enkelmodel wat in September deur PMSA bekendgestel is, sal weer eens hierdie individuele sesde en sewende sitplekke as opsionele ekstras bied. Lig en kompak, kan hulle maklik uitgehaal of teruggesit word. Die drie individuele sitplekke in die tweede ry is nou presies ewe groot, en kan dus naatloos hersaamgestel word om veelvuldige kombinasies in die passasierskompartement te bied. Die middelsitplekke skuif ook deur `n 90%-omvang, dus is letterlik dosyne konfigurasies vir bagasie en insittendes moontlik.

Met al die middelrysitplekke op hulle plek en die terugtrekbagasieruim verleng, kan die nuwe SW `n volume van 573 dm3 berg volgens die VDA-metode. Met die sitplekke en die bagasiedekstuk verwyder, verhoog die syfer tot 1 736 dm3, of indien die vrag wat vervoer word `n vloeistof is en van hoek tot kant tot dakhoogte kon vul, 2 159 liter. Met die voorste passasier se rugleuning in die gevoude posisie, kan die 308 SW ook `n item van 3,1 meter lank huisves.

Die glasgedeelte van die dak strek vanaf die A-pilare tot ver agter die koppe van die insittendes in die tweede ry. Dit is 27 persent groter as voorheen en die totale verglaasde oppervlakte van die voertuig is nou meer as 5,5 vierkante meter – insluitende `n agterklapglas wat afsonderlik oopgemaak kan word.

Vanaf die B-pilare vorentoe is die 308 SW feitlik identies aan sy luikrugneef, dit beteken dus vloeiende fynplaatmetaalwerk en gekontoerde, katagtige liggroepe en `n duidelike luginlaat onder die buffer. Dit beteken ook voorbeeldige rigiditeit, wat neerkom op `n vyfster NCAO-beskermings-verrigting vir volwassenes vir die luikrug en Peugeot-ingenieurs is vol vertroue dat die SW dieselfde resultate sal behaal. Dit sluit vier uit `n moontlike vyf sterre in vir kinderbeskerming en drie uit vier in die voetgangerimpaktoets.

Liggewigmateriaal en die jongste glasbindtegnologie vir die driedubbellaagdak help die SW om die 308 se lewendige hanteringsbalans te behou, gehelp deur `n hersiene weergawe van die wringstaafagteras wat in die luikrug gebruik word.

Die normaal geaspireerde 1,6 liter kragbron wat reeds sulke verdienstelike werk met ander Peugeot-produkte plaaslik verrig, laat ruimte vir lewendige verrigting selfs wanneer gelaai. Met 88 kW en 160 Nm moker dit beslis bo sy gewig, maar beduidend in hierdie toepassing is die beskikbaarheid van 88 persent maksimum wringkrag teen slegs 2 000 omwentelings per minuut. Boonop verteenwoordig sy gekombineerde kringloopbrandstofverbruiksyfer van 7,1 liter per 100 km `n 13%-verbetering oor die 1,6 liter-motor wat in Europa aan die 307 SW gemonteer word.

“Praktiese aspekte is alte dikwels sinoniem met kompromis, maar ons glo dat die 308 SW ontwikkel het tot die punt waar intelligente verpakking en innoverende ingenieurswerk die nodigheid van opoffering uitskakel,” eindig Wilson. “Wat my betref, maak dit van die 308 SW `n triomf in ontwerp.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply