50 Stemme: Die grootste name in Afrikaanse musiek

Die Darren-Hofmeyr-Du Plessis–kudde gaan mekaar behoorlik vertrap om hul hande te lê op 50 Stemme: Die grootste name in Afrikaanse musiek. Dit is dan ook ‘n leidraad van die konteks waarin “grootste” gebruik word.

Almal wat dalk wonder hoekom Kurt Darren sy hare blou wou kleur? Of wat Steve Hofmeyr in Gobabis vir Juanita du Plessis gesê het? Of as jy net moet weet wat die ooreenkoms is tussen “Ou ryperd” en ABBA? Of by wie Rina Hugo klere geleen het vir ’n internasionale sangkompetisie? En die eeu-oue vraag: Wat het ’n selfoon-luitoon met Nicholis Louw se treffer “Rock daai lyfie” te doen? As die vrae jou daagliks treiter is 50 Stemme: Die grootste name in Afrikaanse musiek jou verlossing.

Die boek bestaan uit 50 hoofstukke – van Amanda tot Valiant, van Die Briels tot Fokofpolisiekar. Daar is onderhoude met van die “grootste” rolspelers in Afrikaanse musiek, natuurlik vergesel van kostelike staaltjies en pragfoto’s van toeka tot nou.

50 Stemme: Die grootste name in Afrikaanse musiek is waarlik ‘n boek vir musiekliefhebbers met spasie tussen 49 Stamp Treffers en 51 Bok Bollie Deuntjies.

Lewer kommentaar

Leave a Reply