Ek haat mense wat grap oor fobies. Mmmm, haat is ‘n sterk woord. Maar ja, ek haat hulle … kan hulle nie begryp dat ‘n fobie glad nie dieselfde is as om bang of grillerig vir iets te wees nie?
Baie kort en kragtig verklaar die Afrikaanse woordeboek dat ‘n fobie ‘n sieklike vrees is. Eintlik is dit ‘n aanhoudende, intense angs vir ‘n voorwerp of situasie. Die angs is buite verhouding, dit terwyl daar meestal geen gevaar skuil nie.
Die woordeboek versuim om te sê dat irrasionele optreding en vermyding direk uit fobies spruit. Dat die lyer besef hy is belaglik en verleë voel – dat ander mense dink jy is laf.
Ek het ‘n diepgesetelde fobie vir wurms. Dieselfde geld vir vlinders. Hulle is eintlik wurms wat ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het. Totaal irrasioneel, ek weet, want, hoor ek jou sê, “wurms kan jou mos nie seermaak nie en vlinders is pragtig!” En Freud sou nou vir jou geknipoog het, maar hy was dikwels die pad byster.
Ek is rêrig nie heeldag en heelnag op soek na wurms nie. Ek vermy hulle. Hulle woonplekke, broeiplekke, skuilplekke. Ek tempteer hulle nooit. Loop nooit kaalvoet oor die gras nie. Maak groente met ‘n lang vurk skoon. Dra handskoene as ek in die tuin werk. Eet nie sjokolade of neute in die donker nie. Kies aartappels of patat sonder gaatjies. Trek nooit droë blaartjies van blomme af nie. Sny vrugte oop voor ek eet. En gelukkig is ek geseën met die gawe om wurms te ruik, want hulle hou van wegkruipertjie speel. Wurms ruik groen.
Hulle soek mý. Dag en nag en vind my op die mees ongelooflike plekke, tye. In kos, in snyblomme, in die kar, op teerpaaie, in swembaddens, in die lug, in my drome. Hulle hang van die bome. Hulle klim teen my wynglas op terwyl ek by vriende braai. Hulle wag in die publieke badkamer se wasbak. Hulle is orals. En daar is miljoene van hulle, in verskillende vorms en kleure. Hulle is aanhoudend, gly es-vormend deur die lewe. So asof hulle hier mag wees.
Toe ek, sonder my leesbril, vir die pakker by die groente winkel vra wat die ligte groen strepies op die donkergroen spruitkool is, het hy verstom na my gestaar en verklaar dat dit wurms is. Ongevraagd het hy die steeds spokende stertjie bygevoeg. “Alles in die winkel is vol wurms, hulle is orals!”
Nee, my dogters was nooit bevoorreg om sywurms te hê nie. Op kleuterskool het die jongste op een of ander manier op die sywurm tafel beland. Toe ek haar gaan haal, bly om my te sien, storm sy, getooi in sywurms, op my af. Ek het die hasepad gevat, geweier om haar huis toe te vat voordat hulle haar gebad en hare gewas het.
Ek glo nie daar sal na dié week ooit weer ‘n slaaikop in my huis wees nie. Die “pre-washed” pakkie blare het gewriemel van goedversorgde, groen, vet wurmpies. So ook die vars koljander twee weke gelede.
Ongelukkig bestaan daar mense wat welwetend van my fobie, ‘n wurm verrassend in my gesig sal druk. Blykbaar net om my skrik te maak. Hierdie mense skakel ek uit my lewe. Ander onsensitiewe mense vertel jou, “ag so wat as ek ‘n wurmpie saam met my slaai inkry, dis ekstra proteïene!”
My reaksie wanneer ek onverwags ‘n wurm teëkom, skok mense. Maak blykbaar onaardse geluide. Hardloop blindelings in die straat af sonder om aan motors te dink. Wanneer ek glo ek het iets met wurms in my mond gekry, kruip ek op die vloer rond soos ‘n dier wat gif ingekry het.
Dis wel gerusstellend dat my wurm fobie sin maak. God het destyds ongehoorsame diertjies in die paradys vervloek. Hy het beveel dat hulle beentjies moet afval, sodat hulle sal seil vir die res van die Aarde se bestaan. Al glyend moet hulle oor die weg kom. God doop hulle satans. Ek klassifiseer wurms onder dieselfde spesie.
Ja, ek weet wurms het beentjies, maar hulle is kort, so dit tel nie.
[Gravering deur John Harris (1767–1832), uit The Natural History of the Rare Lepidopterious insects of Georgia, London: 1797. Volume 2.]
