Een sonnige oggend terwyl ek my pragtige tuin versorg en ‘n ogie oor die kinders hou waar hulle die karp broodjies voer in die plaasdam, hoor ek die bekende zoemgeluid van die lemme van ‘n helikopter.
Gewoonlik vlieg hy net laag oor die huis, waai, voer ‘n toertjie uit en is dan weer weg. Daardie dag land die BK117 in ’n stofwolk op die oop stuk grond langs die huis. Ek kry hierdie benoude gevoel. Eerstens omdat ek hoogtevrees het en vlieg haat en tweedens omdat ek verwittig is deur my man om op ‘n gereedheidsgrondslag te wees indien daar probleme sou opduik en ons die plaas moes verlaat.
Gebukkend kom hy nader gedraf onder die lemme uit. “Kom vining vrou! Bring die kinders.” Ek stof net die ergste grond van my af en met ‘n kind aan elke hand nader ons die steeds luierende helikopter. Nadat ek seker gemaak het almal se sitplekgordels is stewig vas, styg ons op, die neus van die BK sak effens vooroor en ons vlieg vinnig vorentoe. Ek is te geskok om ‘n woord uit te kry maar neem tog waar dat die twee mans hier voor in die kajuit ligtelik sit en klets.
Ons nader die dorp maar vlieg na regs waar die wildtuin is. En dis toe dat ek die twee groot renosters gewaar. Hulle het uit die wildkamp gebreek en moes teruggejaag word. In so geval word die lugmag gewoonlik ingeroep en ek tel twee en twee bymekaar en kry ses. Ek weet nie of ek moet giggel omdat daar nie probleme is, of gil omdat ek vir die gek gehou is nie. So voer ons toertjies uit met die helikopter in en uit die boeke totdat renosters weer veilig in die kamp is. Die hele rit skaterlag die kinders van plesier want hulle het al telkemale saam met pa gevlieg om foto’s vir kontoerkaarte te neem.
Met my maag in my keel en my voete weer veilig op moeder aarde het ek tot tien getel en net gesê “Eendag is eendag” en hy het geantwoord: “dit is die tweede liefde in my lewe”.