Geraamtes dra nie klere nie

Claudette Minnaar se pa wat ´n kaptein in die polisie was moet eersdaags voor die Waarheidskommissie verskyn. Die Minnaars se tuinier John-John Mgwegwe het twaalf jaar gelede verdwyn, en nou beweer Minnaar se oudkollegas dat hy teenoor hulle erken het dat hy John-John vermoor en in sy tuin begrawe het.Dit is die basiese gegewe van die jeugverhaal wat grootmense ook vasgevang sal hou. Boonop is daar iemand anders wat ook agter Mgwegwe se graf aan is: die man wat die dreigbrief geskryf het omdat hy wil weet waar “die ystervroutjies” begrawe is.

Die brief beland in Claudette se hande en deur ´n sameloop van omstandighede word sy, haar vriendin en ´n skoolmaat Thobela betrek by gebeure wat buite hulle beheer eskaleer tot ´n skokkende klimaks.

Die uitgewer Tafelberg sê Geraamtes dra nie klere nie is én eerlike, skokkende jeugverhaal soos wat nog min in Afrikaans verskyn het. Talle kwessies van Suid-Afrika se apartheidsverlede word genadeloos oopgevlek deur ´n meesterlike skrywershand.

Claudette is ´n hoofkarakter waarmee jong lesers sal kan identifiseer, en hoewel die tema van die boek swaarwigtig is, is die skryfstyl baie toeganklik. Aksie, spanning, en ´n jaagtog waartydens die koeëls fluit, sal veral by seunslesers byval vind.

Geraamtes dra nie klere nie was ´n Sanlam-pryswenner 2000.

Lewer kommentaar

Leave a Reply