Time out

Ek kan sien daai sak is stowwerig. Dit word versigtig van die hoogste kas in die huis afgehaal.


Nog voor dit die grond raak, duik ek in. Van ’n goeie afstand om meer spoed op te bou. Maar glyend tussen blink balletjies word ek opgeraap.

En kry raas.

“A-tiesjoe!” nies ek terwyl my boudjies balkon toe wikkel. Dis time out.

’n Gekap dwing my om om te kyk. Hulle spyker ’n krans teen die voordeur vas. ’n Verlore wolk druk sy lyf in voor die son. Die son gee nie om nie.

Die volgende dag sleep ouma Dusty ’n vars groen denneboom by die voordeur in. So, terloops, dis die kleinkind wat haar ouma Dusty noem. Nie omdat sy oud en grys is nie. Mmmm dalk ’n bietjie oud, maar daar is mos haarkleur.

Die storie werk so: Nadat die dogtertjie “Mamma” en “Pappa” baasgeraak het, was haar derde woord “Dusty”. Dis nou mý gryse naam. Sy is mal oor alle katte, maar vir my kan sy vryf en vashou, ek krap nie. Vir ’n tyd lank was alle katte Dusty. Só het sy na my ma begin verwys as “ouma Dusty”.

Nou’s ons terug by die denneboom … Vir ’n kat wat in ’n woonstel bly, is ’n vars boom soos manna vir ’n honger siel. Ek stel ondersoek in. Ek ruik saggies. Die naalde steek hier en daar, maar dit keer my nie. Vinnig kou ek aan ’n takkie voor ek verjaag word.

“Moenie!” word ek met die hand wegbeduie.

Onder die simpel klanke van Boney M – miaau-miaau-miaau, gaap-gaap-gaap – word die balletjies in die boom gehang. Met blitsvinnige pootjies slaan ek hulle heen en weer soos ’n bokser sy slaansak bydam. Die flitsende liggies toor met my kop wat vanself heen en weer draai. Wéér word ek met ’n kwaai stem vermaan om van die boom weg te bly.

Kyk na die dogtertjie wat besig is om haarself agter die boom te versteek, sodat almal moet vra of sy dan nie vandag saamgekom het nie. Al singend waggel sy weg: “Twinkle twinkle little tar, mmmm are mmmm high mmmm sky.”

Die blink ster heel bo aan die boom vang ’n sonstraal. Dit verblind ons. Vir ’n rukkie is alles in duisternis gehul.

In die kombuis berei hulle die kos voor. My ma skud haar kop.

“Kan skaars glo dis môre Kersfees. Kan nog laas Kersfees ruik. Waar vlieg die tyd tog?”

Dis nóú my kans. Ek sluip na die sitkamer. Trots kry ek dit reg om ’n balletjie van die boom af te kap. Ek jaag dit oor die teёlvloer rond, totdat die balletjie hartseer onder die bank in verdwyn.

Hulle werk hard. Daar kom glo baie mense vir die feesmaal. Die reuk van vleis walm reeds deur die huis en tot binne-in my snuiwende neusgate. Ek krul om hulle bene. Tevergeefs miaau ek vir ’n stukkie afvalvleis.

So tussendeur word die tafel pragtig gedek. Die kristalglase word uit die kas gehaal. Blink gevryf. ’n Bak met rooi-rooi poinsettias kom in die middel van die tafel. My katboetie hou ook van blomme. Ons word met ’n wysvinger gesê om van die tafel af weg te bly. Maar ek kan nie eers tot drie tel nie toe klik die dogtertjie.

“Eina oppie tafel!” gil sy. Sy noem my boetie Eina omdat hy haar soms raps. Eina skrik groot en verander in ’n warrelwind wat die tafel verwoes. Ek laat spat ook maar liewer en kruip heel onskuldig langs Eina onder die bed weg. Dis time out.

Teen sononder is almal pootuit. Die dogtertjie se ma sak moeg op die rusbank neer. Sy lig haar skouers.

“Sjoe, my rug is erg seer?” sê-vra sy in haar man se rigting. Hy vang die skimp en vryf die knoppe in haar skouers weg. Dis verby die dogtertjie se slaaptyd. Sy knies. Ferm word sy daaraan herinner dat net soet kinders presente kry. (Dit tel in my guns, weet nie so mooi van Eina nie.)

Die volgende oggend arriveer die gaste. Sommige styf en dors van ver ry. Oor en weer wens hulle mekaar ’n geseёnde Kersfees toe. Die jaarlikse drukkies en soentjies word uitgedeel. ’n Seuntjie vra sy ma hoekom hulle Kersfees vier.

“Dis Liewe Jesus se verjaarsdag,” kom die antwoord. Nou wonder ek waarom daar nie ’n plek vir Jesus aan die tafel gedek is nie. Hy is immers die birthday boy! En waar is sy kroon?

Die oulike seuntjie wonder seker ook, want hy vra vir sy ma waar Jesus woon.

“In die hemel,” kom die half ingedagte antwoord. “Nog ’n glasie wyn, asseblief.”

Nou verstaan ek ook beter. Die hemel klink baie ver. Dis seker in ’n ander land. En die vliegtuie was seker vol. Of met deesdae se brandstofprys kon Hy dit seker nie maak nie.

Die tafel huil onder die kos. Dit ruik maaggrommelend lekker en almal smul. Betlehem-ster, o, lieflike ster. Hulle drink en lag en skinder. Veral oor een van hulle ouer kennisse wat swanger is.

“Sy sê sy weet nie hoe dit gebeur het nie, dis ’n wonderwerk!” lag iemand. “Ai, en dit op haar ouderdom. Laat my wonder, het julle al julle nuwe kleinding geregistreer?” vra sy vir die vroutjie met die bitterklein baba. “Ons het darem nog ’n week kans,” antwoord sy, “met al die vakansiedae is dit moeilik om daar uit te kom.”

Nadat almal klaar geёet het, word daar tussendeur oe’s en aa’s en aangeplakte glimlaggies geskenke oopgemaak.

Die denkende seuntjie se vraag of Jesus Kersfees in die hemel vier, val op dowe ore. Almal is te besig om gelyktydig te babbel. Nagereg en koffie word bedien voor die gaste huiswaarts keer.

Soos hulle kar toe loop, hoor ek die kleinkind haar ma na-aap: “Rug … Seer … Erg …”

Sy kan maar vergeet van ’n rugvryfie vanaand.

“Sjoe, dit was ’n wonderlike Kersdag! Nou moet ons net in die bed kom. Môre is nog ’n besige dag.” Hulle maak reg om te gaan slaap. Eina krul om hul bene. Ek lê op my rug met my voetjies opgetrek. Die idee is om oulik te lyk. Aandag te kry.

Die ligte gaan af.

Kan jy nou meer? Hulle het die dag so geniet dat hulle sowaar vergeet het om vir ons kos te gee? Ek is nie eens geborsel nie. Kyk al die knoetse op my rug!

Eina spring op die wasbak. Ek hoor hom knars aan beentjies wat hy op die vuil borde uitsnuffel. Ek kry slaapplek op ’n bondel strooi wat ’n breekbare present beskerm het. Lê soos ’n skaap in sy krip. Verwaarloos en uitgeworpe, tussen opgefrommelde, geskeurde geskenkpapier. Die punt van my stert piets vies teen ’n lint. Die balletjies op die boom lok my nie vanaand nie. Hulle blink minder. Twee tandestokkies vorm ’n kruis op die vloer.

Eina staan op twee agterbene voor die boom. Mik een keer en woeps! spring hy op. Die klip in die emmer wat die boom regop hou, rol om. Rol weg. Die boom tuimel en val swoesj! op die vloer. Stukkende balletjies skarrel oor die teёls. Water drup, drup, drup van die geknakte takkies. Met groot oё sluip Eina op sy maag rond. Hy verdwyn agter die bank.

Time out.

Soet lê ek opgekrul op my strooibed. Ek sukkel om aan die slaap te raak. Ek dink aan die onverwagte swangerskap. Wys jou, wonderwerke gebeur nog! Ek hoop ook die jong vroutjie onthou om haar pasgebore baba te registreer.

Dink ook ek voel skuldig. So hard het ek probeer om ’n stukkie van Kersfees te kry, dat ek skoon vergeet het dat dit Jesus se geboortedag is. As ék so afgeskeep voel, wonder ek hoe Hy voel? Uit meegevoel begin ek saggies miaau: “Veels geluk, Liewe Jesus, omdat jy verjaar, mag die Here jou seёn en nog baie jare spaar.”

Klein spiertjies in my lyf begin skiet sodat die hare op my lyf in bondeltjies saamtrek. Amper soos ’n kat wat vlooie het. Ek ril. Dit voel omtrent asof iemand oor my graf loop …

Vir ’n oomblik voel dit of ek nie alleen is nie! Maar dis net die geritsel van die blare in die wind voor die venster. Die gekwaak van die paddas in die dam. Die gedruis van die see wat ver opkom. Die gedrup-drup-drup van water uit die letsels van ’n afgekapte boom wat nog lewe.

Meteens sien ek ’n verskietende ster wat die hele hemelruim helder verlig. En dis ’n gekwetter soos slapende voёls wat wakker word en hemelwaarts keer. En die half verligte vertrek word vol van ’n vredevolle gepurrrr …

Maar nou onthou ek skielik: Nadat almal klaar geёet het, het hulle tussendeur oe’s en aa’s en aangeplakte glimlaggies hul geskenke oopgemaak. Daar was niks vir my of Eina onder die boom nie. Ook nie vir Jesus nie. Ek dog dan dit was sy verjaarsdag …

En hoekom was als so stowwerig?

Time out.

Model: Floppie
Model: Floppie

(Time out verskyn ook in die Desember 2015 uitgawe van Sarie.)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar