Wegkomkans

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Sy het ons lank laat wag vir dié roman, maar daar is min twyfel dat die wag die moeite werd was en dat Marita van der Vyver se Wegkomkans ´n blitsverkoper soos min gaan wees.

Dinge van ´n kind, haar inisiasieroman oor tieners in die sewentigerjare het in 1994 verskyn, maar dit was natuurlik Griet skryf ‘n sprokie van 1992 wat almal laat regopsit het en bewys het dat Suid-Afrika min woordkunstenaars het wat mens so meesleurend en sensueel kan wegvoer soos dié vrou. Griet is bekroon met die ATKV-prys, die M-Net-boekprys en die Eugène Marais-prys. Dit is wêreldwyd vertaal, onder meer in Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans, Spaans, Sweeds, Tsjeggies en selfs in Chinees en Hebreeus. In 1997 is dit as toneelstuk verwerk en het dit ´n herrie veroorsaak toe die Pretoriase Stadsraad die plakkaat vir die stuk, met die uitbeelding van ´n naakte vrou, probeer verbied het. Daar is ook sprake van ´n rolprent. Geen wonder dus dat Wegkomkans ook reeds aangekoop is deur Britse en Amerikaanse uitgewers nie.

Wegkomkans is ´n roman oor die verhouding tussen tien vriende oor ´n tydperk van tien jaar. Die politieke agtergrond is die noodtoestand van die jare tagtig en later die demokratiese bevryding. Na die huwelik word in hierdie roman spottend verwys as “die laaste groot avontuur wat vir die middelklas oorbly”, en deur die loop van die verhaal misluk hierdie avontuur om verskillende redes by verskeie van die karakters, onder meer seksuele verraad, versweë homoseksualiteit en onversoenbare verskille.

Die vriende ontmoet van tyd tot tyd – tydens ´n “wegkomkans” – by die see, gewoonlik in ´n strandhuis, en praat oor politieke geweld, die oorlewing van Afrikaans en emigrasie, asook oor geheime vrese, seksuele frustrasies, spermtellings en plooie. “Verlore liefde tussen twee mense,” sê een van die karakters, “kan so tragies wees soos verlore menseregte vir miljoene mense.” Benewens emosionele krisisse en aanpassings word van die karakters ook blootgestel aan groot ingrype soos mastektomie, vigs, selfmoord en die dood van ´n kind. Uiteindelik is dit hul vriendskapsband wat die aanslag van tyd en trauma deurstaan, wat ´n skans teen verlies vorm.

Marita het gedebuteer as jeugboekskrywer in 1982 met die jeugverhaal Van Jou Jas, wat later ook bekroon is met ‘n beginnersprys in ‘n wedstryd van Tafelberg en Sarie. Haar volgende twee jeugboeke, Tien vir ‘n vriend (1987) en Eenkantkind (1991) was albei Sanlam-finaliste, en laasgenoemde is bekroon met die ATKV-prys vir Jeuglektuur.

Terwyl sy aan Wegkomkans gewerk het, het Marita langer as ´n jaar in ´n idilliese Middeleeuse dorpie in Provence, Frankryk, gewoon. Sy het die roman in Suid-Afrika voltooi, en in Januarie 1999 vir ´n onbepaalde tyd met haar seuntjie, Daniel, na die suide van Frankryk teruggekeer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply