Wenners van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd

Die wenners van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd is pas aangekondig.


Hulle is:

1ste Prys: Ingrid Winterbach met Die aanspraak van lewende wesens (Human & Rousseau)
2de Prys: Chris Karsten met ’n Man van min belang (Human & Rousseau)
3de Prys: Jaco Fouché Liefste Lena (Kwela)
Debuutprys: Carié Maas met Koljander (Human & Rousseau)

Die eindbeoordelaars was prof. Willie Burger, Linda Rode en prof. Louise Viljoen.

Oor die wenners skryf die beoordelaars:

Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach is ‘n kunsstuk, iets wat die leser aanspoor en dwing om sy kennis uit te brei, ‘n aanspraak op die intellek (en die spirituele sy) maak, en daar is momente in wat taal vleuels gee en kontraste tussen taalregisters opwerp wat mens verstom laat. Wat mens bybly van die roman is die uitreik na die boweaardse, die worsteling om nuwe dimensies van die gees. ‘n Roman wat ‘n durende verwysingspunt in die Afrikaanse letterkunde kan wees.

‘n Man van min belang deur Chris Karsten: ‘n Groot gedeelte van hierdie roman belig ‘n skaars ontginde aspek (in fiksie) van ons politieke historie, dit lig die leser uit sy gemaksone en doen dit met ‘n ruime mate van ironie. Dit voeg toe aan ons kommunale geheue, wat altyd neig om selektief te wees. Dis ‘n manuskrip met hart. Wat dié verhaallyn betref wat op die politieke historie gegrond is, kan dit ‘n verwysingspunt word in Afrikaanse fiksie.

Liefste Lena deur Jaco Fouché: ‘n Reis deur die hoogs sensitiewe gees van die ewige buitestander wat beskouend (veral oor die sin van eie lewe) eerder as daadkragtig na alles kyk. Met onderbeklemtoonde, maar terselfdertyd uitsonderlike en nuwe, insigte in so ‘n wankele psige. ‘n Besonderse, nog lank nie volledig gekaarte veld word hier gedek.

Met ‘n eerste prys van R200 000 is dit die grootste Afrikaanse literêre prys. Die tweede prys is R70 000, die derde R40 000 en die debuutprys R40 000. Altesaam 129 inskrywings is ontvang

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is ‘n NB-affair.

Lewer kommentaar

Leave a Reply