Op 31 Mei 1773 gee Barend Lameren, kaptein van De Jonge Thomas, opdrag om die laaste ankertou te sny in ’n storm in Tafelbaai. Hy hoop om die skip te strand op ’n plek van sy keuse, terwyl hy nog kan.  Wat hy nie weet nie is dat die Soutrivier reeds sy walle oorstroom het en ’n massa water besig is om see-in te vloei.  Tussen die wal water en die geweldige hoë golwe word die skip in twee gebreek, met ’n bemanning van 207 aan boord.

Soldate word na die strand gestuur om enige wrakstukke en goedere wat uitspoel op te pas. Een van hulle is Korporaal Christiaan Woltemade. Met die verloop van die dag bring sy pa vir hom ’n bottel wyn en ’n stuk brood.  Sy pa is ’n plaaslike melkboer, Wolraad Woltemade, op sy tyd self ’n soldaat.

Wolraad Woltemade besluit om die golwe aan te durf met sy perd, Fleur.  Sewe maal gaan hy terug en bring elke keer twee mense terug wat aan sy perd se stert klou. Die agste keer verdrink hy en sy uitgeputte perd toe ses van die bemanning op hulle spring en almal onder die water gedruk word.

Woltemade red 14 van die 47 oorlewendes. Sy lyk en die van die kaptein het die volgende dag op die strand uitgespoel.

Woltemade se naam is nooit genoem in die amptelike verslag oor De Jonge Thomas nie. Die plaaslike amptenary het hom beskou as ’n idioot omdat hy sy lewe vir ander gewaag het. Karl Thunberg was egter daardie dag op die strand en sy weergawe van gebeure in sy boek A Voyage to the Cape of Good Hope (1775)  het van Woltemade ’n internasionale legende gemaak.

Sy standbeeld by die Old Mutual gebou in Pinelands en die Woltemade treinstasie daar naby staan op die grond waar sy melkery was.

Wolraad Woltemade standbeeld

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply