Een les wat die lewe graag vir ’n mens wil leer, is dat niks ooit so eenvoudig is as wat dit mag voorkom nie. ’n Feit wat bevestig word deur regisseur Quentin Krog (Ballade vir ’n Enkeling, Vir die Voëls) se splinternuwe rolprent, Ander Mens, wat net soos die hoofkarakter glad nie volgens ’n standaard-formule beoordeel kan word nie.

Die fliek word aangebied vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger, van die getuiebeskermingsprogram in die Kaap, en is gebaseer op die bekroonde skrywer – Zirk van den Berg – se topverkoperroman wat in 2014 bekroon is met die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie.

“Alhoewel die basiese storielyn dieselfde is, verskil die film drasties van die boek,” verklap Krog oor dié draaiboekverwerking wat hy met behulp van Sean Robert Daniels, Herman Binge en Frannie van der Walt aangepak het. “Die gebeure en agtergrondstories van die karakters is aangepas om beter by die formaat en tydsduur van die rolprent te pas.”

Ander Mens vertel, met oorgenoeg aksie en donker humor om kykers op die punte van hulle stoele te hou, die spanningsvolle verhaal van ’n doodgewone en baie vervelige boekhouer, Daniël Niemand, wie se lewe onherroeplik verander nadat ’n reeks misverstande sy bestaan heeltemal omvêrgooi. Alhoewel die chaos tot groot tragedie lei, help dit hom ook om ’n belangrike persoonlike oorwinning te behaal.

“Hierdie is regtig ’n vars genre, waaraan Suid-Afrikaners nog nie baie blootgestel is nie. ’n Aksieprent, met droë ernstige omstandighede, vermeng met humor. Dit is ook nie aldag wat jy die kans kry om vir Frank Opperman in die rol van ’n skelm te sien nie en dinge raak rof – maar dit is snaaks ook. Dis beslis ’n fliek wat almal moet sien,” sê Bennie Fourie oor dié fliek waarin hy sy eerste hoofrol speel.

Die meeste van die aksiebelaaide gebeure speel af teen die prentjiemooi berglandskap van Du Toitskloof in die Kaap. Omdat die film ook grense verskuif in terme van styl en genre op plaaslike bodem, is daar gebruik gemaak van dieselfde tipe kameralens as wat daar vir die 70’s-treffer, The Godfather, gebruik is en wat heel gepas is vir dié moderne aksieriller.

Bennie is briljant in die rol van die bleeksiel, Daniël, wat sy hele lewe lank deur die mense rondom hom geboelie word. Sy saai bestaan verander egter gou in ’n nagmerrie wanneer ’n konfrontasie met sy huweliksberader (Tim Theron) skeefloop en sy skelm werkgewer en misdaadbaas, Frank Redelinghuys (Frank Opperman), hom help om die gemors skoon te maak.

Wanneer nuwe inligting Frank se aartsvyand, die polisieman Johannes Ackermann (James Borthwick), die perfekte geleentheid gee om uiteindelik hierdie krimineel en sy broer Hansie (André Weideman) vas te trek, word Daniël onwetend as lokaas gebruik en onder die toesig van Erica Kruger (Marlee van der Merwe) geplaas wat ’n paar donker geheime en agendas van haar eie het.

Oor sy karakter sê Bennie: “Daniël is ’n ou vir wie alles skeefloop. Om lewe te gee aan hierdie man, wat so ongelukkig is in sy bestaan, het ek 16 kg opgetel. Hierdie transformasie het baie gehelp om my in die karakters se skoene te plaas, omdat ek naderhand nie eers meer soos myself gevoel het nie, my bewegings was meer beperk en ek het ook gouer moeg geraak.”

Ander sterre soos Jana Cilliers, Lika Berning, Clyde Berning, Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg en meer is ook in die fliek te sien.

“Ons het van die begin af geweet watter akteur perfek vir elke rol sou werk, wat die proses makliker gemaak het,” verklap die regisseur.

Om die rolprent nog meer geloofwaardig te maak, moes Marlee van der Merwe hard saam met ’n opgeleide choreograaf werk om haar intense vegtonele realisties te vertolk.

“Ek was agt maande swanger toe Quentin Krog my van die rol vertel het. Dit was ’n groot, maar lekker uitdaging om van my babagewig ontslae te raak en myself te omskep in ’n sluipmoordenaar met bogemiddelde fisiese vaardighede. Verder het ek dit ook geniet om ’n karakter te speel wat baie verskil van die waaraan ek gewoond is,” vertel sy oor die voorbereiding vir haar karakter. “Dit was ’n belewenis om in die geselskap te wees van legendes soos Frank Opperman, James Borthwick en Jana Cilliers en om saam met Bennie Fourie te werk, was ’n fees! Ons het saam koud gekry, baie tyd in die Land Rover spandeer en mekaar beter leer ken. Ek het met tye regtig gesukkel om nie vir hom te lag in van sy tonele nie. Sy improvisasie is baie skerp.”

As regisseur, was Quentin ook baie oop vir kreatiewe voorstelle en verklap hy dat verskeie tonele op die laaste oomblik spontaan aangepas is as gevolg van die akteurs se interessante interpretasie daarvan.

“Wanneer jy die kans kry om saam met Quentin Krog te werk, gryp jy dit aan. Buiten vir die feit dat hy ’n wonderlike mens en regisseur is, met ’n passie vir wat hy doen, het hy ook ’n ongelooflike oog vir detail en is hy baie noukeurig met sy beplanning,” vertel Bennie. “Omdat hy sy huiswerk so goed doen voor die tyd, kan die akteurs so lekker werk op stel. Die lekker ding is dat wanneer hy jou kies vir ’n rol, hy jou die vryheid gee om keuses te maak oor jou karakter en die vertolking daarvan en dis iets wat ek baie waardeer.”

Tussen die bloed en konsternasie deur, sal die kyker beslis gekonfronteer word met baie stereotipes, maar ook gou besef dat Ander Mens dieper temas soos afknouery, selfbeeld, respek, verhoudings, familiebande, geweld en misdaad aan die kaak stel, wys dat selfs die mees geharde persoonlikheid ook soms weerloos kan wees én dat ’n Niemand op die ou einde ook kan ontwikkel in ’n Iemand wat kan opstaan vir homself. Die rolprent beloof om gehore met tye te laat skaterlag as gevolg van spitsvondige dialoog en donker humor, asook te laat naels kou soos wat die gebeure ontvou en hulle besef dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om sy eie identiteit in die lewe te bepaal.

“Ons wou ’n fliek maak wat die gehoor intrek en deel maak van die spanningsvolle, en soms komiese, gebeure op die skerm. Dit kom egter saam met die belangrike boodskap dat die wêreld jou sal vernietig as jy nie bereid is om aan te pas nie; en dat jy nie moet wag totdat jou lewe uitmekaar uit val om ’n verandering te maak nie,” sê Krog.

Ander Mens begin op 23 Augustus 2019 by plaaslike bioskope draai.

Lewer kommentaar

Leave a Reply