Daar is min dinge wat so vreesaanjaend is as om uit jou gemaksone te tree en jou grootste swakheid vir die wêreld te wys. In Lizette Volkwyn se geval, was hierdie swakheid die feit dat sy nie kon sing nie.  

Oor die jare, het sy al talle mense gehelp om die onmoontlike te vermag en toe sy self besluit om haar eie tekortkominge te konfronteer en oorkom, het dit gelei tot ’n kragtige en transformerende geleentheid wat op 19 Augustus 2023 plaasgevind het by Casa Toscana in Pretoria.

Omdat sy so onkonvensioneel is, weet jy nooit wat dié dinamiese skrywer, meester-lewensafrigter en menslike leuenverklikker volgende gaan doen nie. Tydens haar mees onlangse funksie, The Power of Being Coachable, het sy bewys dat dit moontlik is om die onmoontlike te vermag as jy bereid is om kwesbaar te wees.

Kaartjies vir dié gesogte geleentheid het vinnig uitverkoop en mense was opgewonde dié merkwaardige vrou beter te leer ken en te sien hoe haar reis van toepassing kon wees op hulle eie lewens. Buiten vir die bekende radiopersoonlikheid en sanger, Martin Bester, en die sangeres en aktrise, Stephanie Baartman, wat deel was van die verrigtinge, was bekendes soos die aktrises Marijke Coetser en Juanita de Villiers, sterre van Real Housewives van Pretoria Marié Bosman en Renske Lemmerding, die TikTok-ster Chané Grobler, en vele meer ook deel van die gehoor.

Die doel van die geleentheid was om die mite verkeerd te bewys dat sommige mense perfek is en alles het wat hulle in die lewe wil hê. “In my wêreld wys jy net jou sterk kant en dat jy altyd in beheer is. Dit het, sonder dat ek dit wou hê, gelei tot die valse persepsie dat ek altyd gelukkig is en alles maklik kry,” vertel Lizette. “Die doel van die projek was om mense ’n kykie agter die skerms te gee en om hulle te wys dat ek my doelwit kon bereik deur my vrese in die oë te kyk en kwesbaar te wees. Verder wou ek ook aan hulle bewys dat hulle dieselfde kan doen.”

Nadat sy haar ervaring met die gehoor gedeel het – wat in ’n dokumentêr vasgevang is wat haar uitdagende reis van die afgelope paar maande weergee – het verrigting op ’n groot hoogtepunt geëindig met haar en Stephanie Baartman wat die Miley Cyrus-treffer, “The Climb”, sing.

The Power of Being Coachable

Stephanie was haar stemafrigter en alhoewel sy self ’n goeie sanger is, het sy nog nooit formele sangopleiding gegee nie. Die doel van hierdie eksperiment was om te bewys dat wanneer jy bereid is om te probeer, bereid is om weerloos te wees en bereid is om die raad van ’n kundige te volg, enigiets moontlik is, ongeag jou tekortkominge.

“Stephanie is ’n uitstekende musikant en haar spontane benadering tot die lewe en opregte hart, het haar die ideale kandidaat gemaak om my op hierdie reis te vergesel. Terwyl ek by haar geleer het, het sy my heeltemal veilig laat voel, selfs op my mees kwesbare oomblikke,” verduidelik Lizette.

Volgens Baartman, wat sedertdien besluit het om musiek te gaan studeer sodat sy meer mense kan help, was die projek opwindend en meer uitdagend as wat sy aanvanklik gedink het. “Daar was tye wat ek gedink het ek het meer aangepak as wat ek kon hanteer, maar ek is bly dat ons deurgedruk het. Ek is geweldig trots op wat Lizette bereik het, en ek is so dankbaar dat ek deel van haar reis kon wees. Dit het my lewe verander.”

Omdat kwesbaarheid die kern tema van die funksie was, was dit ook die ideale geleentheid om haar boek, Triumph in Vulnerability, waarin elke hoofstuk bewys hoe belangrik dit is om te groei, amptelik bekend te stel. Sy deel: “In ons mees kwesbare oomblikke is daar ’n ontembare gees wat wag om na vore te kom. My boek is ’n opsomming van ’n besonderse transformerende reis, wat lesers herinner dat wanneer jy bereid is om die beste te maak van jou tekortkominge, jy enigiets kan vermag.” 

Triumph in Vulnerability is nou aanlyn en in alle goeie winkels beskikbaar. Meer as ’n honderd eksemplare van die boek is reeds verkoop. 

Voor die funksie, het Lizette beloof dat gaste die “onverwagte moet verwag”. Sy het nie net hierdie belofte gestand gedoen nie, maar dit reggekry om mense se asems weg te slaan, hul te inspireer, te verander hoe hulle na hul swakhede kyk en te wys dat enigiets moontlik is. “Mense glo al vir te lank verkeerdelik dat kwesbaarheid ’n swakheid is. Maar eintlik is dit die kragbron van ons emosionele en geestelike raamwerk. Deur uit ons gemaksone te tree en die beste te maak van hierdie kwesbaarhede, kan ons die grense verskuif, groei, leer en die onmoontlike vermag,” sluit sy af.

Lizette Volkwyn 2023, foto: Geduan Kemp
Lizette Volkwyn 2023, foto: Geduan Kemp

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Wat het Lizette Volkwyn aangespoor om ‘The Power of Being Coachable’ geleentheid te organiseer, en wat was die hoofdoel van hierdie geleentheid?

Lewer kommentaar

Leave a Reply