Lizette Volkwyn kan nie sing nie. Sy kan glád nie sing nie, maar sy glo vas daaraan dat wanneer jy uit jou gemaksone tree en bereid is om weerloos te raak, jy ongelooflik baie kan groei en selfs die onmoontlike kan vermag, as iemand jou leer.  Lizette is onkonvensioneel en almal het haar al leer ken as ’n dinamiese skrywer, meester lewensafrigter, menslike leuenverklikker wat nie net praat nie, maar dóén. Jy is nooit seker wat sy volgende gaan doen nie en dit maak van haar een van Suid-Afrika se gesogste uitvoerprodukte. Plaaslike en internasionaal help sy verskeie mense om hulle volle potensiaal te ontgin.

En nou gaan sy weereens bewys waarom sy so geliefd en in aanvraag is. By ’n eksklusiewe eenmalige geleentheid wat gemik is op enigiemand wat in hulle persoonlike lewe wil groei gaan sy sing! Met The Power of being Coachable gaan sy saam met ’n meegaande dokumentêr bewys dat jy onmenslik kan groei as jy bereid is om weerloos te raak.  “Ek wil vir mense wys dat as jy regtig besluit om iets te doen, jy dit kan vermag ongeag of dit iets is wat jy graag wil of kan doen,” sê sy.

Die inspirasie agter die geleentheid, was die feit dat mense glo dat Lizette altyd gelukkig is en alles het wat sy in die lewe wil hê. “In my wêreld wys jy net jou sterk kant en dat jy altyd in beheer is. Dit het, sonder dat ek dit wou hê, gelei tot die persepsie dat ek altyd gelukkig is en alles maklik kry. Ek wil vir mense wys dat ek ook foute het en hard moet werk vir wat ek wil bereik. Vir die eerste keer gaan mense Lizette agter die skerms sien. Ek het navorsing gedoen en besef dat kwesbaarheid empatie en groei onderskryf, en dis wat ek wil tuisbring.”

Ter voorbereiding van dié sessie het Lizette by sanger en aktrise, Stephanie Baartman gaan aanklop. Stephanie het vir Lizette – wat erken dat sy bitter min van musiek af weet en skaars kan noot hou, geleer sing. Die doel van hierdie eksperiment was om te bewys dat wanneer jy bereid is om te probeer, bereid is om weerloos te wees en bereid is om die raad van ’n kundige te volg, enigiets moontlik is, ongeag jou tekortkominge.

“Stephanie is ’n uitstekende musikant, maar het nog nooit formele musiekopleiding gehad nie. Haar spontane benadering tot die lewe en opregte hart, het haar die ideale kandidaat gemaak om my op hierdie reis te vergesel. Terwyl ek by haar geleer het, het sy my heeltemal veilig laat voel, selfs op my mees kwesbare oomblikke,” verduidelik Lizette.

Stephanie was aanvanklik nogal skepties oor die projek. “Ek het vir myself gevra hoe jy ’n lewensafrigter afrig as jy nie eers self ’n afrigter is nie? Tog was ek aangenaam verras! Nie net deur my vermoë as afrigter nie, maar ook deur my baie gewillige ‘student’. Hierdie reis saam met Lizette het vir my gewys dat enige iemand wat bereid is om kwesbaar te wees, afgerig en uiteindelik ’n afrigter kan word.”

Vir Lizette, is die bekende radio- en televisiepersoonlikheid, Martin Bester die perfekte voorbeeld van iemand wat kanse waag en grense verskuif. Omdat dit presies is waaroor The Power of being Coachable gaan, het sy besluit om hom by die geleentheid te betrek as seremoniemeester. “Lizette se idee het my baie geïnteresseer en ek het betrokke geraak om verskeie redes,” sê Martin. “Eerstens hou ek van ’n uitdaging en geniet ek dit wanneer mense hulleself uitdaag. Tweedens hou ek daarvan om betrokke te wees by projekte wat musiek insluit. Musiek is my passie en ek maak dit deel van elke aspek van my lewe.”

Met dit in gedagte, kan diegene wat The Power of being Coachable bywoon, uitsien na ’n lewensveranderende ervaring. “Die geleentheid is uniek in die sin dat dit nie fokus op perfeksie nie, maar eerder om te wys dat almal, selfs diegene wat ons op ’n ‘pedestal’ plaas, net menslik is en swakhede en foute het. Dit is ook ’n viering van die ontembare gees van opleiding en kennis deel en sal ongetwyfeld diegene wat by ons aansluit begeester.”

Gedurende hierdie geleentheid, wat beloof om ’n opwindende en transformerende ervaring te wees, sal deelnemers ’n ligte middagete geniet, terwyl hulle vermaak word deur Martin Bester en Stephanie Baartman.

Hierdie eens-in-’n-leeftyd-ervaring word aangebied by Casa Toscana in Pretoria op 19 Augustus 2023 en kaartjies kos R575 per persoon of R4 000 vir ’n tafel van 8 mense. Vir meer inligting of om plek te bespreek, kliek hier  https://www.seatme.co.za/tc-events/the-power-of-being-coachable-triumph-in-vulnerability/, e-pos info@lizettevolkwyn.com of besoek www.lizettevolkwyn.com.

In terme van wat jy kan verwag, is Lizette se antwoord eenvoudig: “Verwag die onverwagte!”. Lizette werk tans aan verskeie opwindende projekte, insluitend ’n diens genaamd AskYourCoach, en ’n nuwe boek, Triumph in Vulnerability en een van haar loopbaanhoogtepunte sover sluit in verskeie aanbiedinge by die Sweedse ambassade gedurende die Nobelprys-oorhandigingsweek, om een van die 14 kandidate te wees om te kwalifiseer vir die CeFF-program wat in Mei begin het en terugvoer van mense wie se lewens sy help verander het.

Lizette Volkwyn
Lizette Volkwyn, foto: Geduan Kemp

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply