
Teater regisseur Christiaan Olwagen maak met Johnny is nie dood nie sy film debuut. Dit word op 5 Mei 2017 in filmteaters landwyd bekendgestel.
Jaco Smit is assistent regisseur, met top Suid Afrikaanse akteurs soos Rolanda Marais, Albert Pretorius, Ilana Cilliers en Ludwig Binge wat hoofrolle vertolk. Roelof Storm speel die titel-rol van Johnny.

Die film speel gedeeltelik af in ‘n tydvak waartydens die regering en die kerk van die dag grootliks die samelewingsnorme en -gedrag voorgeskryf het. Die rolspelers se lewens ongeveer 14 jaar later word ook onder die loep geneem, en kan beskryf word as ‘die post-rewolusie blues van die Afrikaner’. Die dood van hulle universiteitsvriend Johnny bly nog ’n raaisel – iets wat al vier oorlewendes steeds teister.
Die film is ‘n reunie-drama in die styl van die Amerikaanse The Big Chill en die Britse Peter’s Friends: ‘n storie oor vriendskap en verraad, seksuele en politieke bevryding, jeugdige idealisme en middeljarige ontnugtering, die verlies aan onskuld en die aanvaarding van kompromieë ter wille van oorlewing. Dit ondersoek ook die verwoestende uitwerking wat die grensoorlog op duisende dienspligtiges gehad het.
Uitvoerende vervaardiger, Herman Binge, glo dat hierdie film ‘n universele tema het wat wyd aanklank by alle Suid Afrikaners sal vind. “Hoewel hierdie film ‘n indiepte en spesifieke insig in die ‘anti-establishment’ protes en bevryding van Afrikaner-denke in die tagtiger jare gee, en die musiek dalk tot ‘n sekere generasie spreek, word met puik toneelspel en musiek baie grense oorgesteek. Ek is oortuig daarvan dat die ‘millennials’ dalk verras kan wees met die nuwe insigte in ons volksgeskiedenis wat die kontroversiële film bied.”
Die kontroversiële film het met agt van die 2016 Silwerskermfees-toekennings skoonskip gemaak, insluitende Beste Speelfilm.
