KKNK 2015: ‘n Fees vir Fliekvlooie

Altesaam agt Afrikaanse films waaronder vier spesiale voorskoue van splinternuwe films gaan vanjaar by die Absa KKNK (3 tot 11 April) op Oudtshoorn vertoon word. ’n Filmfees keer terug na dié gewilde kunstefees na ’n lang afwesigheid.


Die spesiale voorskou van Abraham, Jans Rautenbach se eerste film sedert Broer Matie in 1984, beloof om een van hoogtepunte op die program te wees en is iets waarna die 80-jarige Rautenbach baie uitsien. “Dit is my, die ou man, ’n geweldige voorreg dat die publiek die film die eerste keer daar waar dit afspeel, in Kannaland, gaan sien.” ’n Voorlopige weergawe van Abraham is in Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees vertoon.

Abraham is in elke moontlike opsig eie aan die Klein Karoo en ’n baie persoonlike vertelling vir Rautenbach. Dit vertel van Abraham Soetland, ’n beeldhouer wat Rautenbach 35 jaar gelede ontmoet het toe hy hom om hulp kom vra het. Soetland sementbeelde staan vandag op Oulap, die Rautenbach’s se huis op Vlakteplaas buite Oudtshoorn, maar Rautenbach het hom destyds nie gehelp nie. Abraham vertel dié storie, van wat gebeur wanneer die omstandighede en iemand se passie nie by mekaar aansluit nie.

“Baie mense het al die storie gehoor. Ek vertel dit al 30 jaar vir almal. Maar so drie jaar gelede sê Karen Meiring ‘Oom Jans, sal jy nou ’n film vir ons maak,’” vertel Rautenbach.

Die meeste van die spelers kom uit die Klein Karoo en Rautenbach sê dat dit geensins toeval is nie. Dit het hom drie maande geneem het om die rolverdeling te vul. Dit is DJ Mouton, wat die hoofrol vertolk, se eerste filmoptrede en Chantelle Phillipus wat die rol van sy vrou, Katie, vertolk, se eerste ooit as aktrise. Rautenbach noem hul spel “hartsvertolkings”.

Die vervaardiger is Gustav Kuhn van Spookasem Films in samewerking met kykNET, die kinematografie is deur Koos Roets en Riku Lätti het die oorspronklike klankbaanmusiek gekomponeer.

KKNK
KKNK
Die ander nuwe films op die program is Joost: Spel van glorie, Mooirivier en Hollywood in my huis. Laasgenoemde is in 2014 aangewys as die Kenners se Keuse en die Gehoor se Gunsteling by die kykNET Silwerskermfees.

Die films, wat deur kykNET aangebied word, gaan saans op ’n groot skerm in die buitelug gewys word, kompleet met piekniekmandjies. Die kaartjies kos R50 vir volwassenes en toegang is gratis vir kinders onder 16 wat van hul ouers vergesel word.

Benewens dié films gaan kykNET & Kie films soos Hard to Get en Four Corners by die Toekomsrus Moviehuis uitsaai. Four Corners het in verskeie internasionale toekennings waaronder die pryse vir beste film by die 2014 Niagara Integrated Film Festival en beste internasionale vollengtefilm by die 2014 Santa Fe Independent Film Festival. Dit is ook in Februarie vanjaar vir 13 SAFTA-toekennings benoem en Jezzriel Skei, wat 13 was tydens die verfilming van Four Corners, is die jongste akteur ooit wat benoem is vir ’n SAFTA as beste akteur. Toegang na al dié uitsendings en films is gratis.

Besprekings vir al dié films sowel as al die ander opvoerings by die Absa KKNK kan aanlyn by www.computicket.com gedoen word of landwyd by Computicket, Shoprite, Checkers en House & Home.

Lewer kommentaar

Leave a Reply