Dis al weer die verdomde Shawn Levy en sy trawante. Die man het die wonderlike vermoë om sy gebrek aan talent aan die groot klok te hang.
Dit lyk nie asof Levy ‘n poging aangewend het om te verbeter op sy eerste Night at the Museum nie. Die regisseur en die vrot spel deur meeste van die akteurs doen ernstig afbreek aan die film se enigste ligpunt, die rekenaarwerk. Die grafiese werk is van ‘n besondere hoë gehalte en sal beide kinders en volwassenes beïndruk.
Dit is dieselfde storie as die vorige keer. Die keer is Larry, die voormalige sekuriteitswag, net in ‘n groter museum, die fantastiese Smithsonian. Omstandighede bring Larry een aand na die Smithsonian waar dié uitstalling ook lewe kry en Larry die wêreld moet red.
Die idee van museumuitstallings wat saans lewe kry kan werklik kinders se verbeelding aangryp. Dit is duidelik dat die vervaardigers van die reeks films wil munt slaan hieruit, maar hulle sal so gou as moontlik van Levy ontslae moet raak as hulle ons geld wil hê.
Almal ouer as 13 moet maar eerder wag vir die DVD.
Met: Ben Stiller, Amy Adams, Robin Williams, Owen Wilson, Bill Hader, Steve Coogan, Ricky Gervais & Hank Azaria
Regisseur: Shawn Levy
bydrae: JM
2 / 5
31 Julie 2009
