The Artist

The Artist

Die bekendstelling van klank en later kleur, was seker een van die belangrikste keerpunte in die geskiedenis van die rolprentteater. Regisseur Michel Hazanavicius moes beslis vas van oortuiging gewees het om in die 21ste eeu ‘n hoofstroom projek aan te pak sonder klank of kleur.

The Artist fokus op die era toe akteurs begin praat het op die silwerdoek. Die sentrale karakters is George Valentin (Jean Dujardin) en Pepe Miller (Berenice Bejo), ‘n megaster en ‘n nuwe gesig. Valentin se loopbaan is aan skerwe weens sy weiering om in films te praat, terwyl Miller die nuwe geslag verteenwoordig.

Afgesien van die afwesigheid van wesenlike dialoog en kleur gebruik skep Hazanavicius ook verskeie tonele wat sterk herinner aan die films van weleer. Tegnies is The Artist egter ‘n moderne film. Die kamera beweeg heelwat meer en gaan meer intiem om met die akteurs. Die akteurs moet wel meer van hul gesigsuitdrukkings gebruik maak, maar daar is niks van die kenmerkende wilde geswaai van die arms om ‘n punt te maak nie. Dit is juis Hazanavicius se slim vermenging van oud en nuut wat hierdie film iets besonders maak.

Ewe indrukwekkend is die hoofrolle, Jean Dujardin en Berenice Bejo. Bejo sit nie ‘n voet verkeerd nie en val perfek in plek, nes die vals moesie op haar gesig. Wat Dujardin betref, moet dit ‘n nagmerrie wees vir ander akteurs. Sy vertolking staan so vêr uit bo ander hoofrolle die afgelope jaar, dat mens half verwag dat die res maar die filmtoekennings op TV kan volg.

The Artist is ‘n pragtige huldeblyk aan ‘n tyd van weleer in die vorm van ‘n liefdesverhaal. Dit verdien alle akkolades wat dit ontvang.

The Artist
The Artist

The Artist
Romanse

Met:

Jean Dujardin,
Berenice Bejo,
John Goodman
Penelope Ann Miller
Beau Nelson
Malcolm McDowell

Regisseur:

Michel Hazanavicius

Skrywers:

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply