The Green Zone

The Green Zone 

Roekeloos

Skuif jy hierdie blad tot aan die einde sal jy opmerk dat The Green Zone nie veel punte kry nie. Laat ek jou dan sommer nou al verwar en begin deur te sê dat ek hierdie fliek geniet het.

Matt Damon speel die rol van ’n gefrustreerde Amerikaanse weermagoffisier (Roy Miller) in Irak. Hy en sy span moet wapens van massavernietiging opspoor. Hulle word egter elke dag op ’n dwaalspoor gelei deur swak intelligensie. Dit neem nie lank voor Miller snuf in die neus begin kry nie.

Die oorlog in Irak word hoofsaaklik as agtergrond gebruik vir ’n storie met booswigte en verraad. Nou en dan kry dit ook ’n politieke hou in.

The Green Zone is naweekvermaak. Dit probeer niks meer wees nie. Dit slaag ook in hierdie doel. Ongelukkig moet mens heelwat punte aftrek, vir tegniese probleme en ’n storie wat die spoor verloor.

Die film begin goed. Dinge gebeur met ’n spoed op die skerm en die kyker word meegevoer deur ’n warrelwind van gebeure. Eerste vang die ondersteunende akteurs se lustelose vertolkings mens, dis asof Damon alleen op die skerm is. Hoe langer dit aanhou hoe meer deursigtig raak die storielyn ook. Saam met die verveeldheid kom ook irritasie in die vorm van die kamera wat te veel met die hand gedra word. Die klimaks is lank en uitgerek en die einde pas nie by die res van die fliek nie.

Dis jammer dat die fliek so in die stof byt, want by tye wou dit lyk asof regisseur Paul Greengrass iets wou maak wat vergelykbaar is met sy United 93.

The Green Zone
The Green Zone

The Green Zone is soos Usain Bolt uit die blokke, maar lyk soos ’n stokflou donkie by die eindstreep. Jy sal dit geniet, maar ook effens teleurgestel huis toe gaan.Regisseur: Paul Greengrass

Met: Matt Damon, Greg Kinnear & Brendan Gleeson

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

2.5 / 5

Lewer kommentaar

Leave a Reply