Kieslys

Close


*/

25 Januarie
2009
Gedigte
3068 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Harriet Christou

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Laat die mense maar kom

My hart
is in
skaakmat

Kanniedood

Vasgevang in die visnet
van jou vingers
voel ek my lewe
begin drup en ek
tot ‘n plas vorm
waarin jy gevoeloos trap
ek spat alle kante
my plassie word al hoe kleiner
Jy lag
terwyl jy staar
na my lewensplas
begin jy huil
en ek begin weer groei

Lemmetjie gedenk aan my

Geberg in die holte van my hand
lê die een ding
wat my as mens
verstaan
as ek in vlees
trane bloei
my konstante oor
wat doodstil daar is
luister as ek biddend bloei
sinvol sny jy
dieper deur die
donker in my hart
geen gedagtes
geen emosies
vir nou
geen pyn of smart

Gebed

O, Heer, my God
as ek aan twyfel proe
skenk my die beloftes van U woord
wat my redding gee
verlossing van die bose
hergiet my gedagtes
in die wete – dat U my lief het
en ek tot alles in staat is
gee my ‘n onstilbare honger
vir U, my God
sodat my menswees kan streef
om soos U te wees
Heilig, Saggeaard
en vol Liefde
omvou my hart
met U Heilige Gees
en wanneer ek soms
voor ‘n toe deur staan
wees my rigtingwyser
tot in die lente van dae
op my knieë sal ek bly
want daar leer ek om
stil te word,
te luister en
te glo.

Kamera

Deur die lens
van my geluk
vang ek alles vas
wat mooi en aanloklik
in my oë weerkaats
vorm ek sketse
van gebeurtenisse onveranderd
wat lewenslank
dieselfde bly

Tyd

Die lewe is so kort
tog is dit’n ewigheid.

As

As woorde uitting gee
oor gevoelens ongesê
sou hierdie lippe
liploos lê.

Ek was daar vir jou (vir Riaan)

Deur diep duine
het ek geloop
gekruip.
net vir jou.
onder skreeuende sonstrale
het ek dood gekook
opgedroog.
net vir jou.
geanker in fyn woestynsand
het ek bly bid
geglo.
net vir jou.
met kras woorde
het jy my versmoor
my binne mens
vermoor.

Kosmosse (Liefde kosmos niks)

Namiddagstiltes strek om my heen
omvou my van alle kante
Waarheen?
Langs berg en dam
lê ek my neer
en bid O, Heer
vir hierdie diep, donker leemte
nie meer.
Skielik waai ‘n warm wind
die vensters van my siel
na die definisie van liefde
voor my, om my, orals
pronk pragtige blomme
skaamteloos, maar vollop
hulle is sommer maar net daar.
niemand het hulle geplant nie
tog groei hulle vir ons
dis hoe mense moet wees.
soos Kosmosse in die wind
altyd, orals daar vir mekaar
Dis.
Liefde!

Dankie

As ek kon wens
wil ek graag
buitensporige vreugde
vir jou pluk
Nee,
ek wil in ‘n veld stap
waar liefdesbossies groei
en elke een vir jou snoei
oneindige liefde jou bly omvou
ek wil tussen glimlaggies huppel
en sommer almal vir jou pluk
ek wil langs die boom van geloof sit
en my God vir jou vind
maar die boom het begin brand
en alles wat ek vir jou wou gee
vinnig veras
Here, hoe sal sy ooit weet
hoe swaar haar menswees
In my hart weeg?
-My liewe kind
sy weet,
want ek het haar vir jou gegee.

Nie meer twyfel

In gedagtes onveranderd
woorde woordeloos;
Ontwaak die idée
dat jou liefde
my net troos;
my jaloesie brand soms
jou liefde
Tot jy net as,
as
voor
my
lê.
In diè grys gemors
vorm jy weer mens
My oë
my hart
(Ongelowige Tomas)
Dit kan nie wees
Dis onmoontlik
Mamma, jy’t my waarlik
Lief!

Hoop

Voor ‘n warm kaggelvuur
Sit sy stoksielalleen
En staar …
Na die dansende vlamme
Wat skilderye skets
Van ‘n vriendekring
Wat onder ‘n boom sit
‘n ma wat haar kind
aand die slaap wieg
en iemand wat vra:
praat met my.

Oorlewing

Ai, Madeliefies
Tussen dorings en gras
Wattige wolke steel jou son
Jou geankerde grond
Nou net ‘n verstote klip
Maar jy lig jou kop
Hoog,
Hoog bo die struike
Want die wagtende wete
Laat jou bly lewe.

Hakkieshart

As die son sy strale begin oprol
Die nag swart hemels verf
Glo ek
Begin ek sterf
My moeder, my mamma
Die bron van my bestaan
Ek is jammer,
Maar die hakkies in my hart
Het losgetrek,
Stukkend geskeur
En al my binnegoed
Is nou breekbaar.

Alleen

Ek is, as mens
Net ‘n illusie vir myself
Wat deur die wind
Nuwe eilande vind
Herberge plant
‘n vesting vir myself

Ek is,
As mens
Gebroke en gebreek
‘n huisie sonder ‘n deur
toe geverfde vensters
net ‘n dak wat my nog keer

Ek is,
As mens
Alleen.

Ma, ek wil sterf

Ma, ek wil sterf
Ek verdrink in my verdriet
terwyl ek moet glimlag
Die lewe druk my
verlam my siel
en hergiet my hart in
Eensaamheid.

Mamma, help my!
Deel my seer
Net vir een oomblik
wil ek ophou huil
Die mooi in die lewe
vir oulaas kan aanskou
Asseblief, Mamma?

Ek is so jammer, Mamma
dat ek nie is
Wie ek eintlik moet wees

Mamma, ek is lief vir jou
daarom sterf ek vir my.

Sê mamma verstaan.

Ek het as kind
nooit kind ervaar
smagtend na waters
by ‘n leë dam bly staan
Sielsoekend na iemand
wat dalk nooit bestaan
Duweltjies en Dorings
Blasé en Bloed
Moeë voete wat voetloos loop
na iewers waar ek wil wees.
Stukkende hande
Wat nooit ophou help
My hande strek uit
my hart bly vra:
Dis die hunkering na liefde
die liefde van ‘n Ma
wat my sal verstaan
as my woorde minder word
en my menswees ontrek.
Dan kom die waarheid
Mamma, eks besig om te val!
Ek wil nie hier wees nie
Dag en nag veg ek
net vir jou
Elke gedagte, illusie
moet ek inhou
Gekluister- want dit mag nie uit
Nie soos van te vore
Dit maak my moeg
Dis moeilik
Mamma,
sê Mamma verstaan.

Soektog

Vanoggend vroeg
voor die voëltjies sing
en die son sy strale begin uitpak,
het my hart die padkaart van jou menswees
probeer vind.
Grondpaaie,
afdraaipaadjies,
naamelose strate.
Gevriesde verkeersligte wat my vashou.
Nat geswete palms,
wat die stuurwiel van my lewe
met alles binne my vasdruk
en ek bid,
Here, maak my rustig
lei my op haar lewenspad.
Bring my na u waters van vrede.
En eweskielik ontdek ek
jy was al die tyd
binne my.

Oorgee

Wat is liefde?
Wie gee dit die reg
om beheer oor jou lewe te neem
en alles binne jou rond te skommel
soos ‘n tuimeldroër wat se spinknoppie vashaak
en jy al en al in die rondom tuimel.
Totdat jy uiteindelik ophou om te struwel
en jy jou oorgee aan die gevoel van
Magteloosheid …
‘n Sagte stilte spoel om jou
en die smaak van seep
verander in soet aarbeie,
terwyl jou hart die Rothmans July hardloop,
vlieg miggies in jou maag rond
en muskiete steek jou van alle kante
totdat jy die gejeuk nie meer kan hanteer
en jy uitskree:
Okay,
ek verdien om lief gehê te word.

Die wete

Vol vertroue staan ek
soos ‘n happy hondjie
wat sy stertjie heen en weer swaai
voor my deur.
Wagtend vir jou aankoms.
Stilstaande oë
gefokus op net eèn ding
Die Deur.
Vasbeslote dat jy sal kom
bly my stertjie swaai.
Enige oomblik nou
Wag net….
Sy sal kom
Sy moet kom
Asb.
Kom …




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD