Suzuki het dalk goeie nuus vir motorgeesdriftiges. Suzuki Auto Suid-Afrika (SASA) oorweeg dit tans om die opwindende Swift Sport in die loop van aanstaande jaar plaaslik bekend te stel.
Die blitsbuks is nou verwand aan die vyfdeur-Suzuki Swift wat hom reeds as ’n verkoopstreffer in die B-segment van die SA motormark gevestig het. Die Sport voeg egter nog meer opwinding en bestuursgenot by die Swift-pakket, danksy ’n stewige kraginspuiting en ’n rits veranderinge aan die onderstel.
Die Swift bou ook voort op Suzuki se trotse motorsporttradisie. Die Swift oorheers die afgelope jare die Junior-Wêreldtydrenkampioenskap (JWTK). In 2007, het die Suzuki Swift Sport-tydrenmotor die eerste twee plekke in dié uiters mededingende kampioenskap verower.
Aandagtrek-stilering
Wat voorkoms betref, lyk die Suzuki Swift Sport nes ’n ware blitsbuks. Onmiddellik merkbaar van voor is die dieper voorbuffer, met sy geïntegreerde lugskort, asook ’n tweede, groter luginlaat, en twee ronde misligte aan weerskante.
Suzuki Swift Sport
Breër drumpels dien as die skakel tussen die aggressief uitgeboude wielboë voor en agter, terwyl die agterste stamper ’n maasdraad-sierpaneel bykry. Twee groot, blink uitlaatpype dien as verdere bevestiging dat dié Swift iets besonders is, terwyl ’n drukvin bo die agterruit standaard is.
Die Swift Sport se wiele is doelontwerpte allooivellings van 16 duim, wat met greepkragtige Bridgestone-verrigtingsbande met ’n formaat van 195/50 R16 toegerus is.
Eksklusiewe binneruim
Die sportiewe karakter van die Sport se buitevoorkoms word binne voortgesit, waar die gevormde sportsitplekke met groter sykussings met ’n treffende kombinasie van swart en rooi doekstof oorgetrek is.
Die leerbedekte dikraamstuurwiel bied ’n tasbaar lewendige skakel met die Sport se dinamiese vermoëns, terwyl die kort ratkierie kort, vinnige ratswisseling belowe. Pedale van vleklose staal met rubberinsetsels sit die verrigtingstema voort.
Kragtige enjin
Die ware hart van die Swift Sport se opwindende karakter is sy hoëverrigtings-kragbron van 1,6 liter. Die toergierige M16A-viersilinder is met VVT-veranderlike kleptydreëling toegerus en lewer maksimumkrag van 92 kW by 6 800 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek 148 Nm by 4 800 r/min.
Die Swift Sport versnel daarom van 0 tot 100 km/h in net 8,9 sekondes, en behaal ’n topsnelheid van 198 km/h.
Die enjin se krag word deur middel van ’n vyfgang-handratkas met kort verhoudings en ’n blitsige skakelaksie na die voorwiele gevoer. Elektroniese stabiliteitsbeheer sorg dat die krag so doeltreffend moontlik na die wiele deurgevoer word, terwyl die skyfremme voor en agter met ABS en elektroniese remkragverspreiding toegerus is om te sorg dat die Sport se remkrag by sy aansienlike verrigtingspotensiaal pas.
Opgegradeerde onderstel
Die onderstel is ook aangepas om by die Sport se bykomende spierkrag te pas. Die veertempo en demperverstellings is verander om ’n stywer rit met meer beheer te voorsien, terwyl die spesiale, gasgevulde skokbrekers spesifiek vir die Sport gekies is.
Die Sport behou egter ook al die kernelemente van die gewone vyfdeur-Swift wat ergonomika, veelsydigheid en praktiese eienskappe betref.
Volledig toegerus
Die instrumentehuisie van die Swift Sport bied ’n tuiste aan duidelik leesbare, ronde gesigte vir die snelheidsmeter en die toereteller, wat boonop met rooi naalde en metaalagtige rame beklemtoon word.
Die standaardweergawe van die Swift se skoon en logiese ergonomika het behoue gebly, en dit geld ook die geïntegreerde klankstelsel, die ritrekenaar, en die noukeurige aksie van die kontroles.
Die lys standaardtoerusting is volledig om tred te hou met die Swift Sport se vlagskipstatus, en sluit onder meer elektriese beheerde vensters en kantspieëls, afstandbeheerde sentrale sluiting, ’n ritrekenaar, lugversorging en ’n geïntegreerde radio/enkelskyfspeler met MP3-terugspeelvermoë in. Die stuurwiel is met satellietknoppies vir die klankstelsel toegerus.
Veiligheid eerste
Die Swift Sport se lys veiligheidstoerusting is volledig wat beide aktiewe en passiewe stelsels betref. Voor- en kantlugsakke is standaard, asook gordynlugsakke aan weerskante, tesame met rukstopgordels met lasbeperkers voor en voorspanners, en ABS-skyfremme met ERV, en ESP-stabiliteitsbeheer.
As planne om die motor plaaslik bekend te stel goedgekeur word, behoort dit teen die laaste kwartaal van 2009 beskikbaar te wees.
