Daggaroker te koop

Anton van Wouw se bekende “daggaroker” kom op 9 November 2015 onder die hamer by Strauss & Kie se Johannesburg veiling by die Wanderers Klub.

Van Wouw het die beeld destyds geskenk vir ’n gelukstrekking om geld in te samel vir liefdadigheid tydens die Tweede Wêreldoorlog. Tienie Holloway het ’n hele 10 sent betaal vir die kaartjie, en sedertdien het die beeld in die hande van die Holloway-familie gebly. Die beeld was toe sowat 60 pond werd. Daar word verwag dat dit omtrent R350 000 sal haal Maandag.

Terloops, Tienie was ’n bekend vir haar Afrikaanse kindergedigte. Sy was getroud met Dr. Jack Edward Holloway, sekretaris van finansies van 1937 tot 1950 en later die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika.

Van Wouw was blykbaar baie beïndruk met hierdie beeld en het dit glo as sy beste handewerk beskou – hy het nege maande aan dié klein beeldjie gewerk. Ten spyte van die beeld se grootte is die fynste besonderhede en delikate afwerking baie duidelik, veral op die hare, naels en plooie. Die beeld se postuur, uitdrukking en algemene komposisie is ook baie besonders. Die spotprenttekenaar en pa van die kunstenaar Gregoire Boonzaaier, DC Boonzaaier, het die beeld gedoop as die “daggaroker”.

Van Wouw se “Joh-burg” sal ook op die veiling te koop wees en mag tot R3 miljoen haal.

Beide werke bevestig hoekom Anton van Wouw as die vader van Suid-Afrikaanse beeldhoukuns gereken word.

Die daggaroker
Die daggaroker

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar