Julanie J is geen onbekende in die Afrikaanse Musiek wêreld nie. Met haar treffer “Arm” wat 20 weke op Jakaranda FM se CTM chart ge-top het, het Julanie vir haar ‘n plekkie in die industrie oopgesing. Daarna het talle treffers gevolg soos, “Dalk is Ek”, “Sandkastele”, “Bitter”, “Weer Kies” en vele ander. Haar eerste Afrikaanse album Mooi het in 2020 vele aanhangers gewerf vir hierdie inspirerende jong kunstenaar met die besonderse stem. Haar enkelsnitte “Arm”, “Dalk is Ek”, “Sandkastele”, “Weer Kies” en “Bitter” het groot sukses op radio behaal en speel na maande steeds op verskeie prominente stasies landswyd.
Na hierdie sukses volg `n splinternuwe enkelsnit “Beheer”. Julanie vertel: “Beheer” vertel van daai onmiddellike aantrekkingskrag gevoel wat jy ervaar wanneer jy iemand ontmoet. Dit veroorsaak ‘n tone krul, in die oomblik gevoel waar jy impulsief optree met ‘n “ek gee nie om nie” houding. ‘n Mens kan dit nie keer nie en jy wil dit nie beheer nie”.
Julanie J skryf al haar liedjies self. Met “Beheer” het sy gevoel dat sy ‘n opwindende gevoel wil skep, daai opwinding wat jy ervaar wanneer iemand jou voete onder jou uitskop, en daarom het sy die vervaardiger en musikant Loki Rothman, genader om hierdie lied te vervaardig. Loki het onmiddellik aanklank gevind met die lied en “Beheer” is gebore.
Soos baie van Julanie J se werke het “Beheer” ń vars internasionale klank wat die luisteraar intrek en laat saamsing uit volle bors. Hierdie lied draai in jou kop nadat jy hom gehoor het. Wees gewaarsku.
