Die gewilde nuwe sanger Corné Pretorius het pas `n video vir sy nuutste enkelsnit “Ek wil glo” uitgereik. Hy vertel dat dié hoendervleis- liedjie grotendeels oor die liefde handel. Hy voeg by: “Maar mense kan dit interpreteer soos hulle wil. Net die idee dat mens kan glo, dat enigiets waarvoor jy wens moontlik is, is wat ek met hierdie lied wil tuisbring.”
Damiane van Reenen het die treffende video vir dié gewilde enkelsnit verfilm by Pencil en Oak in Drakenstein Mall. Die video neem Pretorius op `n terugblik-reis na al die wonderlike dinge wat die afgelope 3 jaar in sy musiekloopbaan gebeur het.
Jan Bloukaas het aanvanklik die musiek vir “Ek wil glo” geskryf en dit is later verder verwerk deur Johnny de Ridder. Hunter Kennedy het ook saam aan die lirieke geskryf.
“Ek wil glo” is die nuutste enkelsnit vanaf Corné Pretorius se debuut-album “Halfvol” wat in September 2021 uitgereik. Dit bestaan uit 10 liedjies wat in samewerking met `n span gedugte plaaslike kunstenaars en musiek-vervaardigers opgeneem is. Sy grootste treffer tot dusvêr, die titelsnit van die album, Halfvol, het reeds `n gesamentlike luisteraars-telling van 80 miljoen op nasionale radiostasies en dié gewilde liedjie het in 2020 verskeie nommer 1 posisies bereik, insluitende Jacarandafm en Radio Helderberg. “Liefde is `n Werkwoord”, die liedjie wat Pretorius saam met Hunter Kennedy in 2021 opgeneem het, het die nommer 1 posisie op Bok Radio se Top 30 gehaal. Oor Bok radio se nommer 1 sê Pretorius: “In my wildste drome as `n jong seun het ek nooit gedink ek sal eendag ABBA verbysteek vir `n nommer 1 posisies op `n treffersparade nie!” Pretorius is ook tans vir “Liefde is `n Werkwoord” in Pretoria FM se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings benoem in die kategorieë “Nuweling van die Jaar” en “Alternatiewe/Rock Liedjie van die Jaar.”
Dan was daar ook nog die sukses van sy ander treffende liedjies “Vuur en Vlam”, “Vergewe My”, “Biertjies” en “Skree”, wat wys dat Corné Pretorius een van Suid-Afrika se mees opwindende Afrikaanse kunstenaars is om dop te hou.
Ek hoop almal geniet “Ek wil glo” se video, sê Pretorius. “Dit is een van my gunstelinge!”
