Danie Niehaus is een van daardie sangers wat mens nie in ‘n kassie kan sit nie. Daar is min musiekgenres wat hy nie kan vertolk nie maar dis ook die tipe mens wat hy is – onvaspenbaar. Danie sê hy voel eintlik meer tuis in kabaret, maar hy het sy vlerke gesprei en sy veelsydigheid bewys met sy vertolkings van ligte opera, country en meer ritmiese rock-nommers. Afgesien van sy individuele styl en sy pragtige stem is hy ook ‘n liedjieskrywer van formaat – ‘n werklik skeppende man.
Danie het kruis en dwars deur die land getrek met sy toere en optredes maar teruggekeer na sy huis in Melkbosstrand op die Weskus om te werk aan sy nuutste album, Dagboek. Dis ‘n professionele, gehalteproduksie en as jy hou van goed-vertolkte, ligte kontemporêre musiek, sal dit een van jou gunsteling-albums word.
Afgesien van die titelsnit en ‘n paar Engelse nommers op die album is van die ander hoogtepunte Danie se vertolking van “Vir Wat”, “Man op die Maan”, “My Kitaar”, “Bittersoet” en “Soms”. Hy sing ook ‘n treffende verwerking van die liedjie, “Blou”, wat deur Laurika Rauch bekend gemaak is. En net om te bewys hoe veelsydig hy is, bevat die album ook sy vertolking van Nessun Dorma.
Danie Niehaus verdien beslis baie meer erkenning as een van ons voorste sangers en liedjieskrywers.