Leipoldt soos nog nooit vantevore

Die opdragwerk Leipoldt soos nog nooit vantevore ´n baie suksesvolle speelvak tydens die Cederbergfees in Clanwilliam gehad en word nou op Maandag 14 Junie (20:00) in Dorpstraat Teater Café, Stellenbosch, deur die Woordfees aangebied.

Dié woordkunsprogram, geskryf deur Willem Fransman (jnr.) en opgevoer deur die Kreakon Toneelgeselskap, belig die bekende skrywer Louis Leipoldt se lewe en werke op ´n verfrissende wyse. Die vele kontroversiële kwessies van Leipoldt se lewe word op ´n deernisvolle wyse op die verhoog uitgebeeld deur voordrag, sang en beeldmateriaal.

Willem Fransman (jnr), bekroonde dramaturg, is self op die verhoog te sien saam met die musikante Victor C. Fredericks en Albertus Davids, wat ´n aantal van Leipoldt se verse nuut getoonset het. Met Fredericks se rock-aanslag en Davids se tradisionele “snaarvat-styl” maak hulle ´n baie goeie span uit!

Dit is die eerste keer wat ´n volledige Leipoldt-produksie deur ´n groep bruin akteurs opgevoer word. Fransman wil met hierdie produksie Leipoldt se status as “kleurlose” held bevestig.

“Dis tyd dat ons nou, veral nou, helde oor kleurgrense heen vir ons moet toe-eien. Vir my is Leipoldt die eerste ware Afrikaan, en nie Ingrid Jonker, soos oud-president Mandela in sy openingstoespraak in die eerste demokratiese parlementsopening opgemerk het nie!”, verduidelik Fransman.

Lewer kommentaar

Leave a Reply