Die Beste Afrikaanse Album in die Wêreld … Ooit

Die titel van dié album is ‘n groot aanspraak om te maak en daar sal lank gestry kan word oor of die 42 nommers regtig die beste is wat daar is. Maar dit word ook Volume Een genoem, wat mens laat vermoed dat daar nog oppad is.

Maar as mens dan net een Afrikaanse CD of kasset gaan besit, is dié seker nie ‘n slegte keuse nie.

Daar is ouer nommers op, soos Nick Taylor se klassieke “Stille Rivierstroom”, Sias Reineke se immer-gewilde “Sproetjies”, Lloyd Ross se “Vyfster” en die Klipwerf Boereorkes se “Lekker Ou Jan”.

Meer onlangse treffers soos Johannes Kerkorrel se “Al Lê die Berge nog so Blou”, Lucas Maree se “Miljoen” en David Kramer se “Stoksielalleen” pryk ook op die album. Maar mens wonder waarom daar besluit is op “Ek is baie lief vir Mammie” van Leon Schuster, “Kalbassies” van Anton Goosen en “Volgende Winter” van Jannie du Toit? Dié kunstenaars het tog sekerlik meer gewilder, groter treffers opgelewer.

Maar oor ‘n gebrek aan verskeidenheid kan mens nie kla nie. Byna al die groot name is daar – van Gé Korsten, Leonore Veenrmans en Cora Marie tot Steve Hofmyer, Danie Niehaus, Worsie Visser en Coenie de Villiers.

Die Beste Afrikaanse Album in die Wêreld … Ooit sal jou ver laat sal terugdink en is ‘n uitstekende geskenk vir familie en vriende wat oorsee groener weivelde gaan soek het.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar