deur Geraldine Klopper

’n Re-evaluering van “Hop Hop Spinnekop” is natuurlik teen die laatte, ek weet. Maar die gogga het my sowaar nog beet. Darren, Green, Van Niekerk en Kelly laat Suid-Afrika steeds gons, of jy daarvan hou of nie.

Eloise Cupido sê onlangs op die radio dat dié liedjie die bloedsomloop verbeter. So op ’n Woensdagoggend gee dit woema vir die werkery. Maar sommige mense kry die horries as hulle dit hoor.

Dawie Roodt verwys ’n ruk terug op RSG se Op-en-wakker ook na die spinnekopliedjie tydens sy interessante stuiwer in die armbeurs oor die ekonomiese beweegredes vir die lengte van popliedjies.

Darren se spinnerak word selfs oor grense gehak. Skoonseun, ’n Malawiese Brit, luister met oorgawe na die spinnekopdans saam met sy Afrikaanse Ganzi-vriende in Botswana.

Is dit die ritme wat ons vang? Die volume word oopgedraai; en jy sing, spring en dans salig saam.

Of is dit die “poëtiese” lirieke? Ontleed die liedjie en jy vind herhaling, treffende rym, woordspeling, progressie en oulike metafore.

Die universele tema is eenvoudig.

Spinnekop bluf almal. Wynvlieg besef eers nie dat sý nie die man gaan vang nie, maar dans later saam. Die wending is in strofe 4 as gogga so al dansende sy web begin spin: “hop” (met die bypassende rym in “spinnekop”) verander na “hak” (met die bypassende rym in “spinnerak”) terwyl hy sy seldsame stories spin. Dinge raak ernstig: dit ontaard in ’n “dansgeveg”. Skelm skuif Spinnie nog nader, en vas is die vlieg. Die klimaks is die doodsdans in strofe 7. Die laaste drie strofes is ’n reïterasie: vlieg is gevang, bedwelm, en daarmee heen. Soos almal wat deur “Hop Hop Spinnekop” gevang word. Maar die vraag bly hóé kry hy dit reg?

Lewer kommentaar

Leave a Reply