Liefde by die Dam is 10 jaar oud! Oud en jonk het op Saterdag 18 April saam gekuier om dié spesiale mylpaal te vier. Bewolkte weer het met die loop van die oggend oopgetrek en feesgangers was bederf met optredes deur Mango Groove, Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties, Will Linley, Appel, Early B, Jack Parow, Robbie Wessels, aKING, Barto, Zoé en Twee. Skille, Loufi, Riaan Benadé, Tasché en Danny Smoke was van die geheime kunstenaars wat ook gesorg het vir top vermaak. Kurt Darren het die skare van sowat 15 000 verras met ‘n verskyning vanaf ‘n spesiale dek.
Volgens Pierre Greeff, hooforganiseerder en voorsanger van Die Heuwels Fantasties, was dit een vir die boeke. “Dit was die beste Liefde nog. Ons het ‘n wêreldklas produksiespan en is dankbaar vir ongelooflike borge en vennote. Mango Groove is ‘n Liefde-droom wat waar geword het. Al die kunstenaars en tegniese spanlede het hul A-Game gebring. Met dank ook aan almal wat al vir ‘n dekade kom saam jol het. Sonder julle is daar nie `n partytjie nie.”
Claire Johnston van Mango Groove sê: “Dit was ‘n ongelooflike ervaring: die energie, die vriendelikheid en die lekker vloei van die dag. Alles het vlot verloop en die produksiegehalte was indrukwekkend. Ons was geëerd om deel te wees van hierdie spesiale viering. Al elf Mango’s was mal daaroor!”
Liefde by die Dam is Augustus vanjaar terug by Emmarentia Dam. Kaapstad kan ook regmaak vir Liefde by Meerendal in November. Hou sosiale media dop vir aankondigings.

Liefde by die Dam se Super Mega Bonanza
Liefde by die Dam se Super Mega Bonanza, foto: Wayde Flowerday Photography

Lewer kommentaar

Leave a Reply