Met kontantpryse ter waarde van R155 000, gaan twintig opkomende klassieke instrumentaliste vanjaar sake uitspook in die 37ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) wat van 5 tot 10 Desember 2022 by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad beslis word.
Dié 20 kandidate is tydens byna 30 video-oudisies deur ‘n paneel van vooraanstaande musici gekies.
Die 20 opkomende sterre uit vier van die land se provinsies gaan hulle musikale staal toon in, wat al beskryf is as, een van die die moordendste musiekkompetisies vir jong musici. Hulle ding mee in vyf kategorieë vir orkesmusiekinstrumente – klavier, stryk. houtblaas, koperblaas en ander (harp, slagwerk, marimba, zilofoon ens.)
Oor die vyf dae moet hulle ‘n wye selfgekose repertorium, wat verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies, uitvoer. Al die deelnemers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semi-finaliste in die derde ronde (semi-finaal) meeding om te bepaal wie die voorste ses musici sal wees.
Die finaliste sal op Saterdag 10 Desember 2022 die stryd vir die louere by die Finaliste se Galakonsert onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) tot ‘n klimaks bring. Die NJMK is die enigste Suid-Afrikaanse musiekkompetisie waar die finaliste die geleentheid kry om saam met die KFO op te tree.
Buiten die kontantpryse, kan die jong sterre ook goud-, silwer- en bronsmedaljes, sowel as gratis Unisa-graadeksamen en uitnodigings om by uitgesoekte prestige konserte op te tree.
Die meerderheid mededingers (11) kom van die Wes-Kaap. Gauteng het sewe en KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het een elk. Vanjaar is daar tien pianiste, vyf fluitspelers, vier saxofoonspelers en ‘n violis. Driekwart van die 20 deelnemers maak vir die eerste keer hulle buiging by die NJMK.
Die vier jongste kandidate is 15-jaar-oud. Hulle is Kian Goliath van Loevenstein, Kaapstad, Madison le Roux van Pinelands, Kaapstad, Heinrich Sutton van Waterkloofrif, Pretoria en Tanya Zhu van Kensington, Johannesburg.
Die vyf NJMK veterane is Qden Blaauw van De Tijger, Kaapstad, Esihle Mthethwa van Pietermaritzburg, Keon Müller van Sunningdale, Kaapstad, Mikahaila Porter van Pinelands, Kaapstad en Vivianna Shamanova Pearson van Nuweland, Kaapstad.
“Die video-oudisies het die diepte van klassieke musiektalent in Suid-Afrika bevestig. Geoordeel aan die standaard van die oudisies gaan vanjaar se kompetisie taai, maar opwindend wees,” sê Michael Maas, voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMF). Die jaarlikse NJMK die stigting se vlagskipprojek.

