Suid-Afrika se vooraanstaande Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) het vanjaar ‘n nuwe aansporing vir jong klassieke instrumentaliste – ‘n kans om met ‘n internasionaal-gesiene dirigent op te tree.
Die kompetisie vind van 5 tot 10 Desember 2022 by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad, plaas.
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) se hoof gasdirigent, Bernhard Gueller, sal by die kompetisie se galakonsert op 10 Desember 2022 op die podium wees. Dit is die hoogtepunt van die week-lange kompetisie. Die konsert begin om 18h00.
Die NJMK is die enigste Suid-Afrikaanse musiekkompetisie waar die ses finaliste sake met begeleiding van die KFO uitspook.
“Net die voorste ses mededingers sal die geleentheid kry om regstreeks met Bernhard te werk. Sy uitgebreide ondervinding, wat oor alle kontinente strek, is ‘n uitstekende geleentheid vir jong musici,” sê Michael Maas, voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS).
Gueller word beskryf as “uiters betowerend” (The Australian, Adelaide), “meesterlik” (Halifax Chronicle Herald, Halifax, Kanada) en “oortreffend” (Die Burger, Kaapstad). Hy is internasionaal bekend vir die passie, vaardigheid en drama op die podium.
Die NJMS het die paneel van ses beoordelaars vir vanjaar se NJMK aangekondig om die kompetisie in drie kategorieë – klavier, strykwerk en blaasinstrumente – te beoordeel. Die paneellede van vooraanstaande musiekfynproewers verteenwoordig ‘n ontsaglike poel van ondervinding.
Die paneel bestaan uit Emeritus Prof John Hinch (jurieleier), Bennie van Eeden (klavier), Prof Farida Bacharova (strykwerk), Becky Steltzner (blaasinstrumente), Vaughan Pietersen (hoof van die Frank Pietersen Musieksentrum) en dr Franklin Lewis.
Hulle sal individueel punte aan die 20 gekeurde mededingers toeken deur na meer as ‘n honderd werke oor die kompetisie se vyf dae te luister. Die ontluikende sterre ding mee om die gesogte titel, die R155 000 totale prysgeld, kontant, goud-, silwer- en bronsmedaljes.
Al die deelnemers speel in die eerste twee rondes, waarna ‘n maksimum van 12 spelers na die derde ronde deurdring. Die voorste ses musici voer dan by die galakonsert die finale stryd, onder begeleiding van die die KFO.
Kaartjies is R140 en R110 vir pensioentrekkers en studente en kan by Quicket bespreek word by https://www.quicket.co.za/events/198241-national-youth-music-competition-2022-finalists-gala-concert/?ref=events-list#/. Toegang tot die eerste drie rondes van 5 to 8 Desember by die Hugo Lambrechts-Ouditorium is gratis.
