deur Toast Coetzer
Kyk, Anna Davel is ‘n Cutt Glass-vrou, so uit die staanspoor weet jy sy kán sing. Boonop beloof die treffende rooi omslag iets smeulends, haar neergeslane wimpers afwykend, misterieus.
Die album – haar derde solopoging – begin heel delikaat, “Don’t” wat aanvanklik klink asof dit die laaste liedjie op die album kon gewees het, want die stadige tempo en gestroopte klavierbegeleiding duur ‘n volle minuut-en-‘n-half voor dit opwel in iets groters. Dis ‘n lekker Sondagaand-liedjie, die vrou wat wens haar liefling wil sy/haar stront los en haar in sy/haar arms kom neem.
Ditto “Laataandliedjie” – en dis onmiddelik opvallend hoeveel meer woordryk en diep betrag die Afrikaanse lirieke is in vergelyking met die Engelses – wat eintlik meer ‘n persoonlike shout-out is aan al die soortgelyke alleenlopers daarbuite, oor gedraai na ‘n sad radiotjie in ‘n kamer met antieke gordyne en ‘n Maltese poedel wat lê en poep op ‘n rottangstoel.
Ek haat die woord ‘diva’, en teen “Ashes” voel dinge te diva-rig vir my, maar ek hou van die trekklavier wat als so ligweg laat meesleur soos populierstompe in vloedwater. Matthys Maree speel die trekklavier – elders ook die klavier en klawerbord – met daai ander ou staatmaker, Mauritz Lotz, wat oudergewoonte die kitaarminesterie behartig.
Die titel-song is een van daai huppelende nommertjies en, as jy besig is om biltong te kou en die ketel kook in die ander hoek van die vertrek (ek is duidelik single), dan klink die koortjie so:
“‘n Godin op die grondpad
Haar oë is sag maar haar tiete is hard”
Dis natuurlik haar “voete” wat hard is, heel duidelik wanneer jy jou kake laat rus vir ‘n oomblik. Godin Op Die Grondpad is prontuit swingerig, maar ek’t nou maar eenmaal iets teen daai stemtegniek waar jy sing asof jy druiwe in jou keel het en dit daar probeer hou terwyl jy jou liedjie aanjaag soos maer skape tussen Williston en Sutherland. Dit gebeur gelukkig net ‘n paar keer.
“Maak My Die Wind” het ‘n lekker jagse ondertoon, lirieke wat dit duidelik maak dat sy daai man (vrou?) binne haar wil hê, sy om hom, oor hom:
“Maak my die wind wat jou deurmekaar waai
Wat jou laag vir laag afdop en jou binnekant kry”
En later: “As jou agterdeur oopswaai, sal die dou in jou oë skyn.” Kinky.
Ek verkies Davel op hierdie eenvoudiger, middelste deel van die album, waar haar sterk stem nêrens probeer forseer of onnodige akrobatiese toertjies uitvoer nie. Dis net daar in jou oor, strelend, gerusstellend en ‘n klein bietjie eroties.
Luister maar na die pragtige “Moenie Dat Die Storms”, waar Davel ‘n verlore vriendskap besing, sensitief omgaan met die woorde en die musiek soos die herinneringe terugkom: “As die rooiwyn en onthou/ aan ons stories vas kom klou”. Mooi.
“Moonbeam” is ‘n tune wat jou so ligweg na Parys sal laat verlang, al was jy nog nooit daar nie. Die trompet van Donny Bouwer wat dinge hier en daar beklemtoon onder die aansteeklike (ek haat die woord ‘aansteeklik’, want dit laat my dink aan VIGS, maar julle weet wat ek bedoel) ritme.
“Diep Swart Rivier” het ‘n dierlike, donker aanslag. Hier is haar liefde soos “‘n trop wildebeeste” wat al van ver af dreun, maar dalk selfs meer grafies: “Ek gee jou my liefde soos ‘n diep swart rivier/ Ek gly om jou voete, dit voel veiliger hier”. Sjoe, dame, is alles OK? Ek het rooiwyn hier en ook baie biltong (nie wildebees nie).
Godinne op die Grondpad bevat ses Engelse snitte en sewe Afrikaanses, so daar’s iets vir almal hier. Davel se sang spoel moeiteloos oor jou, die verwerkings waterdig en goed gevariëerd. “Can’t Break This Heart” is effe Disney-rig en voorspelbaar, maar Davel slaag daarin om haar stempel op die album as ‘n geheel af te druk.
Dit kort so bietjie woede of blues, maar dis dalk reeds hier, net goed versteek onder lae grimering. Dis ‘n CD wat wrywing gaan veroorsaak in ‘n huis waar Trike koning kraai, maar in ‘n Laurika Rauch-huis sal jy verwelkom word soos ‘n lang-verlore expat in ‘n Castle-advertensie.
Dis lekker musiek vir ‘n romantiese ontmoeting met jou geliefde, jy kan al die kerslig sien, die wierook ruik, daai lamsboud. ONTHOU NET OM KONDOME TE GEBRUIK, OK?